Maandag 04 Julie 2016

Maandag 4 Julie 2016

Wonderwerke gebeur nogsteeds.

Die afgelope week was regtig vir ons ‘n tuimeltrein. Dit is wat die woordeboek verklaar as die Afrikaans vir ‘n roller coaster. Ek het so 2 weke gelede besluit dat dit tyd is om weer by die hospitaal uit te kom, want dinge raak maar al hoe moeiliker. My derm is elke dag of twee verstop, en klink dit die een oomblik soos iemand wat ‘n ballon laat afblaas met so ‘n skril klank soos die lug sukkel om uit te kom, en dan dink ek weer dat ek my so pas gelanseer het na Mars of iewers baie ver. En dan is daar die ou pyn, elke dag heeldag.

Die vorige keer wat ons daar was het die chirurg net gesê ek moet by onkologie aanmeld ten spyte van die feit dat ek haar daarop gewys het dat Interferon slegs werk op gewasse van 1mm of kleiner, myne is net so 70 keer groter, en dan is die sukses maar tussen 0 en 20%. So ek het toe maar besluit om ‘n afspraak te maak sodat hulle my kan verwys na onkologie en dan weer terug na chirurgie sodat hulle weer ‘n CT Scan kan doen dat ons net uitvind wat hier binne my aangaan.

Verlede Sondag het van ons vriende ‘n draai gemaak na hulle by die diens was, en het hulle gesê ons moet saam bid dat die HERE hierdie omslagtigheid sal laat verkort sodat ons sommer dadelik ‘n afspraak vir ‘n CT Scan kon kry. Toe ek vroeër deur die proses moes gaan het dit ses maande gevat voordat ek geweet het wat aangaan.

Woensdag was toe die groot dag, en waar hulle my aangesê het dat hulle baie besig gaan wees en my maar moet indruk, is ek toe tweede op die lys. Ek het nou nie baie lekker gevoel toe die dokter my roep nie aangesien ek gesien het die een chirurg kan jy sommer sien het outoriteit, en die een wat my toe roep het dit beslis nie uitgestraal nie. Sy het toe gevra wat aangaan en het sy sit en notas maak. Sy het so ‘n bietjie rond gevoel op die buik en die bors maar nie baie vertroue gewys nie. Toe ek haar vra of sy iets weet van Carcinoid was haar antwoord ‘n baie reguit nee, sy het al daarvan gehoor, maar dit was al.

Sy vra toe dat ons haar sal verskoon want sy wil toe net met haar hoof my probleem bespreek. Die volgende oomblik kom die hoof van chirurgie daarin en hy ondersoek my. Hy kyk toe na die vorige CT Scan van so twee en ‘n halfjaar terug, en ek wys toe vir hom wat ek ook oor bekommerd is en dit was nodes in die lugweg wat op daardie stadium nog te klein was om oor bekommerd te wees. Hy het so ‘n bietjie by die bors gevoel en dadelik te kenne gegee dat hy meer oor die longe bekommerd is as oor die buik.

En daar begin die wonderwerke. Nie net vra hy ‘n CT Scan aan van die buik nie, maar sommer van die bors ook. Dan wil hy hê dat ek moet ‘n kamera gaan sluk om te sien of die longe reg is en om te sien hoe groot die uitsaaïngs is, en nadat Hettie vir hom gevra het oor my ou ledemate wat so seer word, stuur hy my vir ‘n volledige “bone scintigraphy”. Dit is waar hulle kan sien watter uitsaaïngs daar is na die skelet, aangesien ek nie meer my regterhand kan toe kry nie, en elke skanier in my liggaam baie pyn. My nek kan seker net so 70 grade in beide rigtings beweeg, so 140 in totaal, en die rug pyn baie, veral waar ek so 25 jaar gelede ‘n rugfusie ondergaan het.

So daar kry ek toe baie meer as wat ons voor gebid het, net om te wys dat ons ‘n liefdevolle Vader in die Hemel het wat nogsteeds wonderwerke doen. So die volgende ses weke gaan ons maar besig wees.

Die winter is maar hier nou in volle gang. Saterdag was die wisseling in temperatuur 10 grade, van minus ses na plus vier. So die ou blomtuin lyk nie goed na die ryp nie, en nou is dit elke oggend hier onder vyf grade, en sit ek maar elke dag voor die parrafien stofie.

So tot volgende keer, kyk op en moet nooit terug kyk nie, wat verby is is verby, want dit wat voorlê vir elke persoon kan jy net sien wanneer jy vorentoe kyk.

Kyk maar gerus na twee van my “favorite” videos wat jou sal ondersteun maak nie saak wat vir jou wag nie. Dit kan jou net bemoedig.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking