Vrydag 02 Desember 2016

Desember 2016 Laaste pos vir die jaar

Vandag is seker die laaste blog vir die jaar. Met almal wat ‘n blaaskans vat, neem ek ook maar ‘n blaaskans alhoewel dit nie vir my juis iets beteken nie. Ek is elke dag by die huis en weet party dae nie eers watter dag dit is nie, so vakansie of nie, dit het geen impak op my lewe nie.

Sedert die vorige blog het daar ‘n paar goed gebeur in ons lewe. Hettie het die week gegaan vir ‘n mammogram en biopsie. Die mammogram het gewys dat dit ‘n soliede gewas is in die regter bors, en het sy ook sommer ‘n biopsie ondergaan. Hulle het 4 monsters van verskillende gedeeltes geneem wat nou ondersoek sal word. Die dokter is bekommerd oor die wand van die een gewas. Nou wag ons vir die uitslag wat seker eers volgende maand gaan wees hier by die 12 de rond. Die dokters wil ook maar graag vakansie hou en hulle voel dat ‘n maand nie ‘n groot verskil sal maak nie. Dan sal sy die resultate kry en die operasie bespreek, en dan indien nodig sal sy ‘n dubbele mastektomie ondergaan. Gelukkig kon Su-Hannie haar vat want dit raak te moeilik vir my om so vêr te ry, so ek het op die plaas agtergebly. 

So miskien moet ek maar die naam van die blog verander na swaarde in plaas van net een swaard, en my na ons.

Met myself het ek so ‘n paar goed uitgevind wat ek nie vroeër van geweet het nie, en die medici hier by ons ook maar nie van weet nie. Ek het na die scintograaf wat hulle in Julie geneem het skielik begin voel dat die uitsaaïngs voel asof hulle my meer las gegee het as voorheen. So byvoorbeeld het ek gevind dat ek sommer skielik ‘n baie erge “sinus” tipe hoofpyn (mense sal seker sê ‘n migrane) in die regterkant van my kop ontwikkel sonder rede, dat ek skielik doof word aan die regter kant, dat my nek se beweeglikheid ingeperk word na slegs seker 50 grade beweging, die ribbes skielik meer gereeld seer word, dat ek voel of my regterkant se skouer baie vinnig seer word soveel so dat ek nie eers baie kan doen voor die rekenaar nie, en sommer nog ‘n hele paar ander goed soos permanente rygpyn. Een van die grootste nadele is dat ek nie meer oorfone kan gebruik om musiek of video mee te kyk nie, want die regter oorskulp word geweldig seer na 5 minute. Dit maak dit natuurlik ook vir my moeilik om nog videos op te neem en te redigeer, want ek is maar ‘n lang asem wat sommer gou-gou ‘n uur of meer oor ‘n onderwerp kan praat waaroor die gemiddelde persoon sal sukkel om 20 minute oor dieselfde onderwerp te praat. Maar dit is maar wie ek is. Ek wil eerder te veel inligting gee dat mense dalk eers na die derdekeer alles verstaan as wat jy iets sê en mense met vrae los wat jy nie beantwoord nie.

Ek het toe maar op ons groep wat meestal net Amerikaners is, beide pasiënte en spesialis onkoloë, gevra of die scan iets kon gedoen het of newe effekte het. Die antwoord het my regtig onkant gevind. Die onkoloog wat in beheer is van Carcinoid.org se antwoord was dat ek nou by die een groep getel sal word wat negatiewe terugvoer het. Daar is nie genoeg pasiënte en geld om navorsing daaroor te doen nie, maar word pasiënte in die VSA daarop gewys dat dit dalk negatiewe resultate kan hê, en die mense self moet besluit of hulle dit wil laat doen. Ek het nie daardie keuse gekry nie, maar die lokale spesialis het dit verseker ook nie geweet nie.

Ek is wel bly dat ek die toets laat doen het, want dit het baie vrae beantwoord, maar ek hou nie van die gevolge dat beide die Carcinoid uitsaaïngs en Rheumatoid Arthiritus vererger na die toets nie. So ek moet maar weet dat pyne van die skelet sal vinniger vererger as voor die toetse. Dit is regtig ‘n probleem vir my want daar is so min mense wat iets weet van die siekte dat selfs Cansa net ‘n een bladsy bespreking van Carcinoid het wat hulle by die Amerikaners gekry het. So wanneer jy by ‘n dokter inloop voel hulle half bedreig aangesien ek baie meer oor die tipe kanker weet as hulle. En dit laat dat hulle voel of jy hulle aanval wanneer jy met hulle praat dat iets soos Interferon nie by my sal werk nie aangesien dit slegs ‘n 20% kans het om gewasse van 1mm en kleiner se groei te beperk terwyl jy op behandeling is, en nie sal werk op die gewas van 70mm x 40mm x30mm in my buik nie, en na al die uitsaaïngs na die skelet nie. Om die waarheid te sê sal dit geen verskil op die uitsaaïngs hê nie. Daarvoor het jy PRRT (Peptide Receptor Radionuclide Therapy) nodig en dit word huidig op groot skaal net in Basel Switserland gedoen. Dit sal heel moontlik eers oor 6 maande in Amerika deur die FDA goedgekeur word. En die newe effekte van Interferon sien ek nie weer voor kans nie. Soos die spreekwoord sê; “Been there, done that, got the t-shirt”. Dan kan hulle ook Octreotide voorskryf, maar teen so om en by R35,000.00 per drie weke, gaan ek nie by ‘n staatshospitaal regkom nie. Selfs van die beste mediese fondse laat nie die behandeling toe nie.

Al wat ek maar net vra is dat hulle ‘n jaarlikse CT Scan doen sodat ons kan sien wat verander het van die vorige jaar. Ek het sommer nou geleer hoe om dit self te lees en kan nou self sien waar die gewasse is, maar ek neem aan dit sal of die aar wat deur die gewas gaan of die uitsaaïngs na die nek, skedel of rug wat maar my einde sal veroorsaak. Maar tot dit gebeur, leef ek elke dag om ander se lewens te verander en hulle nader aan die HERE te laat leef.

Ek kan net vra ook dat die mense nogsteeds sal bid vir reën in ons gebied. Sover hierdie somer het ons vir November net 4mm gekry en is die temperatuur hier in die hoë 30's. In die tyd wat ons nou hier is, het ek nog nooit so 'n droogde ervaar nie, en het ons seker drie weke nodig teen so 10mm per dag voordat die toestand sal verbeter. Die kinders se boorgat by die huis is vir die eerstekeer in die geskiedenis besig om op te droog. Nou hulle huis het al in 1834 gestaan. Hulle het net genoeg water in die damme om die jaar se mielies deur te trek, maar hulle sukkel om die voer wat  hulle met die vorige oes gemaak het te verkoop, want die kontantvloei van die boere is almal kwaai geraak deur die droogte.

Vandag se liedere is juis vir die tydperk in ons lewe. Dit word gesing deur een van Hettie en my gunstellinge, Buddy Green. I don't belong

En dan een vir Kersfees Lamb of God deur Twila Paris

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking