Woensdag 04 Januarie 2017

Woensdag 4 Januarie 2017 Begin van 'n nuwe jaar met nuwe dinge

En daar is ons alweer in ‘n nuwe kalenderjaar in. Van die mense hou nog vakansie, maar baie is al terug huise toe en begin voorbereidings om weer terug te gaan werk toe of skool toe. En dit beteken vir die mammas so ‘n blaaskansie in die oggende om net weer tyd aan hulself te spandeer.

Hier by ons op die platteland is dit nogal interessant hoe die lewe op ‘n Maandag en Vrydag verloop vir die mammas. Op ‘n Maandag kom van die mammas bymekaar nadat die kinders by die skool/koshuis afgelaai is om ‘n bietjie te kuier oor ‘n koppie koffie of tee en net te ontspan. Van die mammas gaan dan weer terug huistoe want die kinders sal die week in die koshuis wees, waar ander besig is met ander dinge tot die skool uitkom en dan die kinders kry en huis toe gaan. Dit is nou vir die mammas wat op die plase na aan die dorp bly. Op ‘n Vrydag kom die koshuis mammas weer vroeg om al die inkopies te doen, weer gou ‘n draai te maak en al die ander mammas te groet, en dan weer die langpad aan te vat huistoe vir die naweek. Van die mammas maak maar beurte met die ryery.

So dit begin nou alles weer volgende week hier by ons waar die meeste kinders of in Burgersdorp se skole is, of in Bloemfontein is. Die Bloemfontein mammas maak maar beurte en ry ook nie elke week om die kinders te kry nie.

Vir ons gaan ons nou in ‘n redelike onsekere tydperk in. Maandag gaan ons na Su-Hannie toe sodat sy Donderdag vir haar ma kan vat Bloemfontein toe vir haar uitslae van al die toetse wat hulle verlede maand gedoen het. Die gewas in die regterbors het nogal vinnig gegroei. Ek het so midde die afwagting haar gespot en gesê sy kort nou ‘n bra met plek vir drie borste, want die regterkantse gewas is groot. Verder sal ons maar moet sien wat gebeur. Met haar familie geskiedenis maak ons ons maar klaar vir ‘n dubbele mastektomie aangesien sy al verskeie niggies en tantes verloor het aan borskanker. Ek bly maar op die plaas want dit raak maar moeilik vir my om sover te ry. Selfs net die vinger rondskuif op die tablet of die rondbeweeg van die muis maak dat die regter elmboog seer raak. Maar dit is maar die ou arthritus wat so maak.

Die Carcinoid self gaan maar sy gang. Die uitsaaïngs pla maar veral die agter die regter oor en die nek. Die regteroor is nou meeste van die tyd stokdoof en vol pyn en maak dat ek maar redelik maklik soort van ‘n sinus hoofpyn/migrain kry net in die regterkant van my kop. Dan is daar ‘n limfnode net voor die linker oor wat ook maar laat weet hy is daar en baie oorpyn veroorsaak asook keelseer.

Die gewone ou pyne is maar altyd daar. Die buik bou maar baie gas op en maak dat die gewas teen die regternier druk dat dit voel of iemand ‘n dolk daar indruk, die nek kan maar net so ‘n klein bietjie draai sonder om seer te word, en dan is die diarieë maar altyd daar. Ek het nou juis die week gedink ek is lus vir ‘n bietjie bruin volgraan brood en daar besluit die ou maag dat hy my sommer so 20 keer op een middag toilet toe jaag. So dit maak my maar moeg. Hettie het ‘n goeie uitdrukking daarvoor, veral omdat sy ook geweldig moeg raak. Sy sê die bank en die boude het magnete en trek mekaar altyd nader, en dan moet daar regtig ‘n goeie rede wees om op te staan.

Ons het eers op 26 Desember ons kers ete gehad. Bani en Su-Hannie het op Kersdag reggestaan vir sy familie op die plaas en het almal op die ou einde in die swembad baljaar, en het hulle die volgende dag na ons gekom om saam met ons Kersdag te vier. Dit was nogal baie lekker want dit was nou maar ‘n Kersdag soos ek daaraan gewoond was as kind en later ook as volwassende by ons eie huis. Net ‘n lekker ete met nagereg, en ‘n glasie wyn, en lekker kuier.

Ook lekker met Esthee gekuier oor die foon, en stap haar datum ook vinnig aan. Dit wil nou voorkom of die dokters besluit het op ‘n keisersnit ‘n week voor haar datum, so dan sal klein Lars so begin Maart gebore word. En dan is daar skielik drie kleinkinders. Dan was ek ook baie bly dat ek Maandag met Kobus en Susan kon praat en klink sy weer sommer soos sy geklink het voor haar hospitaal storie. So dit het dit sommer ook vir ons die feesgety lekker afgesluit.

So vir ons is die volgende week nogal moeilik met die gewag om te hoor wat hulle gaan doen en wanneer hulle dit gaan doen, so dink en bid maar vir ons. Die jaar weet ons regtig nie wat alles gaan plaasvind nie, maar gelukkig weet ons dat die HERE is in beheer, en soos die Bybel dit stel Rom 8:28  En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.

En dan sluit ek maar af soos gewoonlik met ‘n lied wat vir my en Hettie baie beteken. Ek weet dit is al ‘n ou opname, maar dit beteken nogsteeds baie.

Twila Paris He is Exalted

1 opmerking:

  1. Rom 8:28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is”.

    Wat beteken dit?Beteken dit dat God sy uitverkorenes het?

    Sterkte vir julle.Hierdie is alles vergangklik.Die onvergangklikke wag op julle.

    Groete.

    AntwoordVee uit