Sjoe, en daar is die eerste maand amper verby met soveel
goed wat gebeur het. Ek staan net in verwondering en kan party dae nie glo hoe
vinnig die HERE werk nie.
Su-Hannie het vir Hettie geneem vir haar mammogram en
biopsie by Universitas op 12 Januarie, en daar sê hulle sommer dat hulle self
met haar wil werk. Dit was die Donderdag. Daar word toe onmiddelik ‘n been scan
aangevra plus ‘n Xstraal van die bors aangesien hulle nie van die wand van die
gewas in die regter bors gehou het nie. En dan moet sy sommer die volgende Donderdag
die dokter sien by die kliniek, so dit beteken toe dat sy vir drie of vier dae
in Bloem moes wees.
Ek het toe besluit ek sal maar instaan en haar vat alhoewel
ek nie juis meer so kan rondgaan nie. Die ry is alles reg, maar die gevolge is
nie altyd lekker nie, maar met drie dae om te herstel voor ons hoef terug te
kom was dit nie ‘n groot probleem vir my nie. Sy het toe die Dinsdag die been
scan laat doen en die Xstraal. So die 19 de is ons terug hospitaal toe vir ‘n
vinnige sonar van die buik en lewer, en toe moes ons maar gaan wag vir die
dokter.
Ons was sommer voor in die ry en die dokter spot nog met
haar dat hy eintlik haar leêr wil terug sit want sy is net probleme. Vir die
wat haar nie ken nie, sy aard nogal na haar pa en kan ook ‘n goeie plaatjie
wees as sy wil, so sy het dadelik ‘n skerp antwoord vit hom gehad. Hy kyk toe na
al die uitslae en sê toe vir haar eintlik moet hulle nie wag tot volgende maand
nie want onkologie gaan in elk geval vra dat hulle die bors moet verwyder. Sy
vra toe weer of hulle nie altwee kan verwyder nie want dan is dit agter die rug
en hoef sy nie verder bekommerd te wees nie. Hy stem toe heelhartig saam en sê
toe dat hy twee kansellasies het vir die volgende dag en hy sal sorg dat sy dan
sommer die volgende dag gedoen word. Toe sit ons nou met ‘n probleem want elke
vorige keer het sy maar haar hospitaal tassie gepak maar nie die keer nie. Maar
die dokter wil dit so gou as moontlik doen. Toe is dit vinnig terug gastehuis
toe om plek te kry waar ek verder kon bly, en haar ingeboek te kry.
En daar is dit Vrydag en is sy so teen elfuur in operasie
saal toe, en toe ek haar weer 5 uur sien toe is sy wakker en seer. Wat ons toe
eers uitvind in die hospitaal is dat hulle toe ook die kliere onder die linker
arm ook verwyder het, en kan jy sien hoe lê die hale tot amper by haar elmboog
so vêr het hulle gedelf. En sommer binne die eerste paar dae is haar linker
skouer wat almal net gesê het dit inflamasie is ook beter. Dit is en bly vir
ons ‘n groot gebeurtenis omdat sy so gekla het maar almal net na die bors kyk
met die ekstra bors, en die ander bors en kliere vermy, of as inflamasie
afmaak.
So nou is ons onsettend bly dat dit agter die rug is, en dat
ons nou kan uitsien na verbetering met die wete dat die kanker wat hulle kon
verwyder weg is. Sy behoort nou volgende week uit te vind of hulle alles kon
verwyder, en dan seker die dreineringspype uithaal. Daarna moet ons wag vir
onkologie wat oor ‘n maand sal besluit wat nog nodig is.
Met myself is dit maar net aanhou. Die uitsaaïngs na die nek, regter skouer en
skedel is die goed wat seker die meeste nuwe seer veroorsaak. Al die ou seer is
nog daar, die lewer, regter nier, die diarieë, buik wat opblaas en dan ontplof,
dit is nog als daar. Dan is die ou arthiritus ook maar moeilik, maar vir nou is
dit eers Hettie wat moet gesond word. Dit is die eerste mylpaal. Die regter
skouer sukkel maar en vind ek dit moeilik om baie te tik op die rekenaar en met
die muis te beweeg.
Ons het darem oral reën gekry en by Su-Hannie hulle loop die
rivier vir die eerstekeer die seisoen. By ons huis weet ek nie wat aangaan nie
want ons is nou al amper drie weke op die plaas.
So groete tot volgende keer.
Musiek vir die week is ‘n opname van Be thy my vision. https://www.youtube.com/watch?v=6q7kNr1XCIs