Woensdag 25 Januarie 2017

Woensdag 25 Januarie 2017

Sjoe, en daar is die eerste maand amper verby met soveel goed wat gebeur het. Ek staan net in verwondering en kan party dae nie glo hoe vinnig die HERE werk nie.

Su-Hannie het vir Hettie geneem vir haar mammogram en biopsie by Universitas op 12 Januarie, en daar sê hulle sommer dat hulle self met haar wil werk. Dit was die Donderdag. Daar word toe onmiddelik ‘n been scan aangevra plus ‘n Xstraal van die bors aangesien hulle nie van die wand van die gewas in die regter bors gehou het nie. En dan moet sy sommer die volgende Donderdag die dokter sien by die kliniek, so dit beteken toe dat sy vir drie of vier dae in Bloem moes wees.

Ek het toe besluit ek sal maar instaan en haar vat alhoewel ek nie juis meer so kan rondgaan nie. Die ry is alles reg, maar die gevolge is nie altyd lekker nie, maar met drie dae om te herstel voor ons hoef terug te kom was dit nie ‘n groot probleem vir my nie. Sy het toe die Dinsdag die been scan laat doen en die Xstraal. So die 19 de is ons terug hospitaal toe vir ‘n vinnige sonar van die buik en lewer, en toe moes ons maar gaan wag vir die dokter.

Ons was sommer voor in die ry en die dokter spot nog met haar dat hy eintlik haar leêr wil terug sit want sy is net probleme. Vir die wat haar nie ken nie, sy aard nogal na haar pa en kan ook ‘n goeie plaatjie wees as sy wil, so sy het dadelik ‘n skerp antwoord vit hom gehad. Hy kyk toe na al die uitslae en sê toe vir haar eintlik moet hulle nie wag tot volgende maand nie want onkologie gaan in elk geval vra dat hulle die bors moet verwyder. Sy vra toe weer of hulle nie altwee kan verwyder nie want dan is dit agter die rug en hoef sy nie verder bekommerd te wees nie. Hy stem toe heelhartig saam en sê toe dat hy twee kansellasies het vir die volgende dag en hy sal sorg dat sy dan sommer die volgende dag gedoen word. Toe sit ons nou met ‘n probleem want elke vorige keer het sy maar haar hospitaal tassie gepak maar nie die keer nie. Maar die dokter wil dit so gou as moontlik doen. Toe is dit vinnig terug gastehuis toe om plek te kry waar ek verder kon bly, en haar ingeboek te kry.

En daar is dit Vrydag en is sy so teen elfuur in operasie saal toe, en toe ek haar weer 5 uur sien toe is sy wakker en seer. Wat ons toe eers uitvind in die hospitaal is dat hulle toe ook die kliere onder die linker arm ook verwyder het, en kan jy sien hoe lê die hale tot amper by haar elmboog so vêr het hulle gedelf. En sommer binne die eerste paar dae is haar linker skouer wat almal net gesê het dit inflamasie is ook beter. Dit is en bly vir ons ‘n groot gebeurtenis omdat sy so gekla het maar almal net na die bors kyk met die ekstra bors, en die ander bors en kliere vermy, of as inflamasie afmaak.

So nou is ons onsettend bly dat dit agter die rug is, en dat ons nou kan uitsien na verbetering met die wete dat die kanker wat hulle kon verwyder weg is. Sy behoort nou volgende week uit te vind of hulle alles kon verwyder, en dan seker die dreineringspype uithaal. Daarna moet ons wag vir onkologie wat oor ‘n maand sal besluit wat nog nodig is.

Met myself is dit maar net aanhou. Die uitsaaïngs na die nek, regter skouer en skedel is die goed wat seker die meeste nuwe seer veroorsaak. Al die ou seer is nog daar, die lewer, regter nier, die diarieë, buik wat opblaas en dan ontplof, dit is nog als daar. Dan is die ou arthiritus ook maar moeilik, maar vir nou is dit eers Hettie wat moet gesond word. Dit is die eerste mylpaal. Die regter skouer sukkel maar en vind ek dit moeilik om baie te tik op die rekenaar en met die muis te beweeg.

Ons het darem oral reën gekry en by Su-Hannie hulle loop die rivier vir die eerstekeer die seisoen. By ons huis weet ek nie wat aangaan nie want ons is nou al amper drie weke op die plaas.

So groete tot volgende keer.


Musiek vir die week is ‘n opname van Be thy my vision. https://www.youtube.com/watch?v=6q7kNr1XCIs

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking