Die jaar het
vinnig begin en die tyd lyk my gaan ook nie stadig verby nie. Ons was vir so
twee en ‘n halwe week op die plaas by Su-Hannie hulle, en het Esthee en klein
Lars het kom kuier. Wat ‘n groot bederf. Ek het regtig nie gedink dat ek ooit
eendag haar kinders sal ontmoet nie. En daar word ek bederf en kry ek toe tog die geleentheid.
En dan was dit
nie net sommer dat hy net sy ma wou sien nie. Nee, hy het behoorlik met almal
vriende gemaak, behalwe Coco. Sy is maar ‘n knorrige hondjie en het nie baie
daarvan gehou dat die vreemde mensie aan haar moet vat nie. Haar kuierplek
wanneer ons daar is is styf teen Hettie se regterbeen ingekruip en dan pas sy
haar so op dat Hettie nie eers badkamer toe kan gaan sonder dat Coco haar volg
nie. Maar jy kan haar altyd omkoop met ‘n stukkie biltong, dan is jy haar
maatjie.
Maar klein Lars
was die hoof aandag en trekpleister. Hy het so lekker met sy nefie Theuns
gespeel al is daar amper 8 jaar verskil tussen hulle, veral as Theuns op sy
skatebord sit en Lars hom kan stoot. Baie vinnig uitgewerk ek kan op twee knieë
en een hand kruip en die ander hand die skatebord vashou sodat Theuns nie weg
kan raak nie. Hy het so ‘n bietjie sonder ondersteuning begin regop staan en so
‘n paar treetjies na Oupa gegee, maar Esthee sê hy kan nie begin loop nie want
sy het dit nog nie gesien nie.
En dan was dit so
lekker om Esthee weer te kan sien en aan te vat en lekker gesels. Maar dit was
lekker om net almal saam te wees. Ons het sommer die eerste Sondag deurgekom na
Barney en Debbie toe om by hulle te braai sodat hulle ook darem deel kon hê aan
die kuiertjie. Maar soos alle dinge kom als tot ‘n einde en is sy al meer as ‘n
maand weer terug, eers ‘n draai by oupa Lars, en toe terug Melbourne toe.
Gelukkig werk die Aussies anders as ons en het hulle haar pos gehou vir ‘n
volle jaar en sien hulle ook uit daarna om haar weer by die werk te hê.
En Su-Hannie het
na ‘n groot gesukkel met Unisa uiteindelik kon registreer vir haar laaste 6
vakke vir die semester en haar graad. So sy werk maar hard daaraan en om dan
nog ma en taxi te speel vir die twee kinders op skool vat baie, veral as die
skool so amper 25 km van die plaas is. Gelukkig huur sy maar ‘n woonstel op die
dorp sodat sy na die kinders afgooi en gym woonstel toe kan gaan en daar leer.
Maar na die einde van die semester het sy haar LLB in vier jaar gedoen, iets
wat glad nie maklik is nie. En hulle het gelukkig ook baie water gekry soveel
so dat sy nou die dag nie die kinders kon skool toe vat nie want hulle kon eers
met veiligheid laat die middag met die voorhaker die boomstompe van die brug so
tweehonderd meter van hulle huis af, verwyder. Gelukkig weet die onderwysers
dit is platteland en stuur hulle sommer die huiswerk per whatsapp na die ouers
indien die kinders nie by die skool kon kom nie.
Met ons
gesondheid gaan dit maar wisselvallig. Hettie se duime sukkel nou met artritis
en is baie pynlik met tye, maar ek dink sy het hulle dalk voos gewerk. Sy is so
trots op haar hare wat nou weer heeltemal terug is, maar so krul dat die mense
wonder of sy dit nie laat doen het nie. Haar een vriendin sê nou die dag nou
kan sy sien waar Barney aan sy krulhare kom. En dan het sy vir haarself bederf
en twee nuwe truie aangepak wat nou ook einde se kant toe staan. Maar nou vind
sy ook uit soos ek uitgevind het dat die laaste 10% van die werk partykeer 50%
van die tyd opneem.
Self is dit maar
op en af. Die uitsaaīngs na die gesig se vel toe is nogal moeilik om
partykeer te hanteer. Dit is eintlik maar die hele bolyf wat vol gewassies is
maar gelukkig weet ons dit is nie veronderstel is om kwaadaardig te wees nie,
net ongemaklik. Hulle juk partymaal en dan is hulle groot en dan weer klein so
ek is maar redelik raadop met dit. Dan is daar maar net die ou ewige moegheid.
En natuurlik hou die regterlong nie daarvan nie en dan val die onderste helfte
plat en weet ek nie hoe om die pyn te breek nie. Die een uitsaaīng net agter
die regteroor gee my nogal opdraande met hoofpyne wat sommer so vir drie dae
nie wil breek nie, maar dan gaan ek maar weer aan. En nou gebeur dit al amper
daagliks dat ek toilet toe gaan en al my energie sommer so terwyl ek sit by my
hande en voete uitloop en weg raak. En baie keer is dit net ‘n geraas en
stinkbom wat uitkom, so ek kan dit nie eers op die diarieë blameer nie.
En dan probeer jy
nog om iets aan te pak en dan is self ‘n stukkie werk soos 10 minute se gras
sny met die grassnyer en die kante te doen met die weedeater wat seker net 5
minute vat, en dan het ek weer drie na vier dae rus nodig voor ek weer kan dink
aan die volgende projek, al is dit net om gif aan te maak en die rose te gaan
spuit vir luise en roes en al hulle ou insekte wat hulle aanval. Maar gelukkig
groei hulle nou verskriklik mooi. Ons eerste reën het eers hier begin Januarie
gekom en staan ons nou net so onder die 200mm tot vandag toe. En ek kan maar
natgooi maar hulle bars uit hul nate sodra dit reën is. So ek het ‘n groot
plastiek bak onder die een afleipyp van die geut geplaas en
nou al reën dit net een millimeter is die bak vol en kan ek al die rose uit die
bak natgooi. En daarvan hou die ou lyf ook nie dat ek die 10 of 15 emmers water
rond dra nie.
En dan het ek my
boek Oor Struikelblokke en die Hoeksteen heeltemal hersien, en goed bygesit en
uitgehaal. Op die ou einde het hy wel gegroei en is hy nou hier net oor 160 A4
bladsye lank van waar hy vroeër net so by 100 bladsye lank was. En dan het ek ook
tyd gekry om na Esthee weer terug is en ons weer by die huis is, om die boek in
Engels oor te skryf. So albei is nou gisteraand na my webtuiste toe oorgeplaas
as “Oor Struikelblokke en die Hoeksteen”, en in Engels “On Stumblingblocks and the Cornerstone”. Vandaar al die veranderings in die
Afrikaanse weergawe. En ek weet daar is nog ‘n gedeelte wat ek vanoggend gekry
het om as voorbeeld oor Petrus se deugde te gebruik wat ek seker gedurende die
week sal skryf en bywerk. So indien jy dit alreeds afgelaai het, doen dit maar weer want daar is redelik baie veranderings tussen Desember en Maart se weergawes.
So dit is maar
ons nuus hier uit die Karoo. Gelukkig is hierdie dae van 40+ lyk my verby en is
dit darem op ‘n warm dag net so by twee en dertig of drie en dertig grade, en
op ‘n koel dag soos verlede week skielik net sewentien grade maksimum.
Ek het besluit om
‘n ou liedjie vandag te gebruik om mee af te sluit. Dit mag dalk oud wees maar
is ‘n redelike nuwe opname maar die woorde is nogsteeds waar. Ek dink ek het
self die liedjie hier in 1959 geleer by Louw Geldenhuis Laerskool in Linden.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking