Woensdag 05 Maart 2014

Woensdag 5 Maart 2014

Sjoe maar die tyd vlieg. Ek wou nog begin om nuus deur te gee toe was dit al weer naweek, en nou trek ons al weer by Woensdag. Verlede week was daar nie veel nuus by ons nie. Hettie is maar lekker besig met haar kunsklasse. Sy is nou al Dinsdag en Woensdagoggende besig, en dan ook die hele dag Saterdag. Maar, sy geniet dit vreeslik, en die studente net so. Elke week is daar nog nuwe mense wat bykom, en lyk dit vir my sommer ander dae ook. Die mense by die ouetehuis geniet dit ook baie. Elke week is daar nog mense wat kom kyk of hulle ook iets kan doen, veral omdat dit hulle niks kos nie want al die benogdighede word deur mense geborg. Hettie moet net sĂȘ wanneer die geld op is dan sal dit aangevul word. Dit is nog lekker om op so ‘n plekkie te bly waar mense nog vir mense iets doen.

Ek hou myself besig met die tuin, en om te skryf. Dit is nogal lekker om vars groente in die tuin te gaan pluk, al skrik jy elke nou en dan as jy op ‘n patty pan afkom wat vir twee of drie dae weggekruip het en nou soos ‘n groot pampoen lyk. Of soos Vrydag waar ek net vir ‘n paar minute spinasie gepluk het, maar dit ‘n uur en ‘n half geneem het om reg te kry vir die vrieskas. Ek moet juis vandag nog skorsies gaan pluk en ek is seker daar is amper ‘n sak vol. En dan is daar nog die komkommers wat ek al Maandag of selfs verlede week moes hanteer het, om nie eers te praat van die butternuts nie.

Ek het ook gister ‘n groot verrassing gekry toe ek na my Disa saadbakkie kyk en sommer ‘n hele paar groen spikkeltjies gesien het. Op die stadium lyk dit of ek so agt of meer plantjies het maar hulle is maar baie klein, seker net ‘n speld se puntjie groot. Nou is dit tyd om hulle te pamperlang want hulle vrek sommer baie maklik. Die plantjies wat verlede jaar opgekom het het sommer net gevrek omdat hulle water verander het van Jeffreys se water na dit wat ons hier kry.

Die gesondheid is maar baie wisselvallig. Die een dag soos vandag kan ek nogal redelik aangaan sonder erge pyn en moegheid, maar dan is daar dae soos gister en Maandag wat ek maar liewer wil vergeet van. Dit help darem dat my pynmedikasie verdubbel is en dat dit nie veel juis newe effekte het nie. Dan behalwe vir die pyn is dit is maar net die gloede, bloeddruk en moegheid wat my vang, en is die emosies ook nogal vlak deesdae. Ek wens party dae dat ek net ‘n bietjie binne in my lyf kan kyk wat maak dat ek so erge pyne kry in die rug, of dalk is dit die niere, maar al wat ek weet is dat dit nogal baie seer is. 

Nou is dit gelukkig tyd om ‘n bietjie te ontspan en eers ‘n lekker koppie koffie saam met vroulief te geniet voordat ek my skorsies gaan pluk.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking