Dinsdag is dit Barney se verjaarsdag, en kan ek nie glo ek
is dan al 42 jaar lank pa nie. Ek kan nog goed onthou hoe Hettie die aand voor
sy geboorte ons deken se bondeltjies wol af gemaak het, soos wat jy partykeer
op ‘n trui kry, en ek vir haar gesê het sy moet rus, want die baba kon enigetyd
kom. Daardie dae was dit nog ‘n groot verrasssing wanneer die baba gebore word
om te sien of die ‘n seun of dogter is. En my woorde was nog nie eens koud toe
sê die hospitaal sy moet maar inkom en ek kan gaan slaap, want die eerste baba
vat mos maar lank. Min het hulle geweet dat ek twee ure later moes jaag om
betyds by die hospitaal te wees vir sy geboorte.Gelukkig was daar nie verkeer
halfvier in die oggend nie. Ons het later jare vir Barney gespot omdat die
hospitaal in ‘n ouetehuis verander is in Emmarentia in Johannesburg, en gesê hy
sal altyd goed met ou mense oor die weg kom, en min geweet dit is maar wie hy
is, die wêreldse geduld met almal.
Een iets wat ek sedert my vorige skrywe uitgevind het is dat
ek alreeds daardie tyd Carcinoid sindroom gehad het. Om die waarheid te sê
nadat ek vir ons facebook groep moes dink wanneer ek die eerste simptome van
die ou siekte gehad het, het ek uitgevind ek was so 15 jaar ou toe dit begin
het. Geen wonder dat hulle in 1995 al ‘n gewas van oor die 100mm kon verwyder
het nie. En dit vir ‘n baie stadig groeiende kanker. My huidige gewas is nou
eers 77mm lank na 22 jaar.
Ek het vroeg al
gesukkel met wat die dokters maar toegeskryf het aan hooikoors of allergiese
reaksie teenoor sekere stowwe, ek seker elke maand deur 2 bottels Kem-o-Dene,
ek kry nou nog die reuk wanneer ek daaraan dink, gegaan het om die diarieë in
toom te hou, en die besoeke aan die dokter wanneer ek soos ‘n sak patats inmekaar
gesak het van lae bloeddruk. So na al die goed lyk dit vir ons groepie of ek
sover die langste met die kanker al rondloop in ons groepie, so oor die 51 jaar
al.
Na ek al die vrae beantwoord het wat die ou Prof Woltering
in die VSA gevra het, het dit my eers getref hoe die ou siekte ‘n mens se
persoonlikheid kan verander, van iemand wat altyd maar geluister het en raad
gegee het met almal se probleme, na iemand wat nogal baie vinnig warm onder die
kraag kan raak. Net nie aan my verkeerde kant kom nie, terwyl ek eintlik maar ‘n
baie rustige ou was vroeër jare.
So waar staan ek vandag? Die ou gewas om besig om die
hoofaorta (onderste een tussen jy derm en ander organe) toe te maak. Ek sukkel
maar met pyn in die buik want dit voel of die derm nie genoeg bloed kry nie, en
so nou en dan kry die longe nie genoeg bloed om suurstof na die res van die lyf
te vat nie. Die niere is nou al pal vir die afgelope jaar of wat waar hulle met
minder bloed moet klaarkom. So wanneer die ou aar gaan besluit hy is toe, weet
ek nie wanneer dit gaan wees nie, maar dit kan seker nie meer te lank wees nie.
Hettie het nog twee chemo behandelings wat voorlê, en dan is
dit darem agter die rug. Sy sukkel maar met die nuwe chemo aangesien dit haar
erge infeksie gee waar hulle dit toedien. So sy vat maar ‘n week of meer
voordat sy min of meer weer haarself is, net om weer te begin. Ek dink ons sal
albei nogal bly wees wanneer dit verby is want ons raak maar moeg vir lewer,
brokkoli, spinasie en al die kos hoog in yster om haar reg te kry vir die
volgende keer.
En die winter het by ons geariveer, en sien ek dat ons
volgende week Donderdag en dan later op Saterdag of Sondag, dalk sneeu kan
verwag. Die ryp was net baie vroeg die jaar, al voor 15 April, en jy sien dit
sommer op die plante. Van die plante begin aan te pas aangesien dit nou al hul
vierdie winter is, en hulle redelik hard geword het en beter bestand is teen die
lae temperature en ryp.
So dit is maar al van ons kant. My liedjie vir die keer se
skrywe In the time that You gave me:
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking