Dinsdag 01 April 2014

Dinsdag 1 April 2014. En dit is nie 'n grap nie.

En daar begin ‘n nuwe maand en is ‘n kwart van die jaar verby. Ek en Hettie is so bly vandag want Esthee kom volgende maand kuier. Sy gaan by Su-Hannie tuis, maar ons gaan almal lekker saam kan kuier. Ons sien so uit te om haar weer vir ‘n paar dae te sien voor hulle weer terug moet gaan Melbourne toe. Ons almal is ‘n jaar ouer sedert ons mekaar laas gesien het, en dan het daar soveel goed gebeur. So ons kan nie wag nie.

Vanoggend het dit so ‘n bietjie hier by ons gereën, en was dit redelik koud met ‘n baie sterk wind wat gewaai het. So teen tien uur het dit begin om oop te trek en het dit darem so ‘n bietjie warmer geword. Ek kon ook vandag my een orgidie in die huis bring wat begin blom het. Die plant is verseker die getrouste plant wat ek nog gehad het. In die twintig jaar wat ek hom het, het hy amper elke jaar geblom. Verder het van my Disa saailinge al hul tweede stel blaartjies gemaak en kan ‘n mens hulle nou al met die blote oog maklik sien. Ek hoop nou maar net hulle gaan die koue van Steynsburg se winter kan trotseer.

Met die gesondheid is dit maar soos gewoonlik. Die een dag is dit redelik en dan is daar weer ‘n dag of vier wat dit maar moeilik is. Ek het gister eers gesien dat die statistiek wat ek 12 Maart genoem het so ‘n klein foutjie gehad het. Daar is nie 5 mense uit elke 100,000 wat met carcinoid geïdentifiseer word nie, maar 5 uit elke 1,000,000 mense. Ek het net een nulletjie uitgelaat, maar dit maak nogal ‘n groot verskil. Die grootste probleem vir my naas die pyn is maar die effek op die hart en bloeddruk. Dit voel maar so nou en dan of die hart skielik uitgevind het dat hy te stadig geklop het en dan gaan hy so tekere dat ek wonder of hy nou al die kloppe wat hy moes klop, probeer inhaal. Gelukkig word ‘n mens maar ook daaraan gewoont, en gaan ek maar aan met alles.

Ek is net baie bly dat ek nou geleentheid kry om alles wat binne my was, alles wat die Heilige Gees my geleer het die afgelope seker 18 jaar, dat ek dit kan neerskryf en met die mense hier by ons in die selgroep en ander kere by ons byeenkoms op ‘n Sondag kan deel. Hierdie Sondag is dit juis weer my geleentheid om met die mense te kan deel rondom wat Jesus gedoen het die drie dae wat Hy dood was. En dan is ek ook besig om so ‘n inleiding van alles wat ek geleer het, op video vas te lê. Ek het gedag dit sal so ‘n uur lange sessie wees, maar nou sien ek dit gaan nader aan drie ure wees. Miskien gaan ek dalk langer wees, maar ons sal maar sien.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking