Dinsdag 21 Augustus 2018

Dinsdag 21 Augustus 2018



En so het daar al weer 'n ruk verby gegaan waar ek maar redelik stil was. Ek het maar aan 'n paar artikels vir my bedienings webtuiste gewerk wat ek een reeds van geplaas het, en dan is daar nog so twee of drie waarmee ek besig is. Dit hou die kop aan die gang, en terseldertyd leer ek nogal 'n paar goed.

Maar so oor die afgelope paar maande het ek besluit dat hierdie nou die laaste plasing oor die onderwerp sal wees. Ek glo ek het mense 'n bietjie geleer oor hierdie tipe kanker waarmee ek sit, en dat dit maar 'n lewenslange vonnis is. Daar is net geen oplossing behalwe om die gewasse volledig uit te haal nie, en in my geval is die hoofgewas die probleem. Daar is geen chirurg wat sal waag om daar te sny nie, want indien hy dit wel doen, is die kanse seker hoër as 80% dat hy die onderste aorta kan raaksny en ek myself sal dood bloei.

Maar ek glo nie dat die naam van die blog regtig weergegee het wat ek beleef het die afgelope vyf jaar nie, aangesien ek gedurende die tyd maar geleer het dat dit wat die dokters (veral die in Suid Afrika) weet en wat ek weet en beleef regtig wêrelde uitmekaar is. Toe ek begin het met die blog het ons almal verwag dat ek net maande oor gehad het om te leef, maar ek het geweet dat daar dinge is wat ek baie graag wou doen, en wel gedoen het, soos om seker ses boeke te skryf en vertaal vir my bedienings webtuiste, en dit het my net meer krag gegee om te veg. So na amper vyf jaar is dit tyd om hiermee spesifiek te stop, alhoewel ek voel ek kan nog jare aangaan, maar dan kom daar tog dae wanneer ek nie eers weet of ek die aand sal haal nie.

Augustus, en veral die tweede helfte van die maand is maar 'n baie snaakse tyd vir my. Drie en twintig jaar gelede op die 31 ste Augustus 1995 was dit die dag toe hulle die kanker ontdek het. Agtien jaar later het ek my eerste Carcinoid krisis moes deurwerk op 18 Augustus 2013 en dit was die Desember daarna wat ek die blog begin het, oorspronklik maar vir Esthee in Melbourne en dan vir die familie wat maar oor die land verstrooi is. Maar so het die boodskap maar versprei en het ek reaksie gekry van mense wat ek nooit ontmoet het nie.

En dan is dit ook nog ons huweliksherdenking en my verjaarsdag wat ook in die tyd plaasvind. So nou het ek maar besluit om ook 'n einde aan die blog te maak, aangesien ek self moeg geword het vir die storie. Ek weet dit is moeilik vir my om daaroor te skryf veral wanneer jy al partykeer tot twintigkeer diarieë gehad het op die dag, en wil ek nou maar die volgende jaar of tien rustig deurbring.

Ek raak maar op met wat hierdie siekte jou aandoen, maar ek weet dat my geluk nie afhang van ander mense nie, maar van myself, my verhouding met die HERE en die genot wat Hettie, die kinders en kleinkinders verskaf. Met klein Lars sien ek partydae seker fotos van hom voor sy pa dit nog kon sien so jy leef so saam met hom en sien hoe hy net die afgelope 7 maande van 'n baba wat nog rondkruip verander het na een wat mamma help, fietsie in die straat ry, en natuurlik alles bekyk oor hoe die goed werk en wat hy daarmee kan doen. O en dan kan ek regtig snaaks wees wanneer ek weet mamma met oupa en ouma gesels en hulle kan sien hoe ek nou aangaan. Gelukkig is die ander twee naby ons en kuier ek en Hettie juis die week by hulle op die plaas, en het hulle skielik groot geword en kan hulle al baie intelligente gesprekke voer. En dan is daar natuurlik ook nog drukkies wat alles regmaak.

So dit was seker nodig dat ek uiting kon gee aan my gevoelens en veral my begeerte om ander te leer. Ek moet erken ek is seker die persoon wat die meeste geleer het, maar so met die verwisseling van die seisoen gaan ek ook in 'n nuwe seisoen in. Wat vir my en Hettie voorlê weet ek nie, maar een ding wat ek weet is dat ons nooit alleen hierdie pad stap nie en dat die HERE ons sal lei soos Hy nog reg deur ons lewens dit gedoen het.

So vir nou is dit eers tot ons weer mekaar sien of van hoor , totsiens, en soos my nuwejaarsboodskap was, mooiloop.

En dan net weer 'n skakel na seker die lied wat vir beide my en Hettie uitspel hoe ons deur die lewe gaan.


Dinsdag 05 Junie 2018

Winter 2018. Nogal beter as ander jare want 3 jaar gelede vandag het ons kapok gehad.


Dinsdag 5 Junie 2018

Daar het maar soos gewoonlik nogal baie gebeur die afgelope paar maande. Hettie het twee Euroasian ringnek duifies plus twee Zebravinkies gekry, en ek moes bontstaan om hokke te maak en vir die Zebratjies toe te maak dat hulle nie sommer uit hul hok kon vlieg nie. Die duiwe hok het nogal ‘n rukkie geneem om self te maak, maar ek is trots op dit wat ek gedoen het. Die Zebratjies se hokkie se sportjies was net ‘n bietjie vêr uitmekaar so ek moes toe van die oorskiet ogiesdraad om die hok sit om dit toe te maak. Makliker gesê as gedoen, veral met die vel wat al hoe dunner word en net ‘n krappie sommer baie bloed laat vloei. So het ek maar met my tuin hanskoene gewerk en op die ou einde was hulle punte van hulle vingers deurgewerk, maar ek is ongeskonde.

En toe tref die ou gesondheid my met ‘n groot slag. Die lang, oorspronklike, dunderm is verstop en net die omlyning werk. So ek kan ‘n lekker bord kos eet en dan 3 ure later gaan gooi ek dit weg want dan is dit klaar deur my stelsel. Dit is nogal eienaardig om nou te eet en binne ‘n halfuur is jy so honger dat jy winde opbreek en jou oorspronklike dunderm grom omdat hy nie kos kry nie want hy is sommer by die begin geknak. Gelukkig het Hettie onthou dat voordat hulle die omlyning gedoen het die dokter my twee baie sterk Diazepam (Valium) inspuitings gegee het en is ek maar daagliks daarop om in die aand te slaap en in die oggende ook een te neem om my lont so met ‘n sentimeter te verleng. So ek het darem ‘n sentimeter lont voordat ek ontplof wanneer mense my omkrap en dit het darem dat die pyn ligter is. Die verstopping het toe vir 5 dae aangehou waarin ek skielik 4 kg. verloor het, en nou is my ingewande so gewoont aan die kortpad dat al is die verskriklike pyn nie meer daar waar die derm geknak was nie, die kos nogsteeds kortpad kies en soos klokslag drie ure na elke ete daarvan ontslae raak. Ek en Hettie het juis een oggend gelag toe ek vir haar vertel dat my maag so bietjie langer gevat het en eers half drie die oggend gegaan het, en ek nogsteeds die kerrie kon ruik wat ons geëet het, en sy my antwoord dat sy dit vyfuur die oggend ook nog kon ruik. Waar ons gewoonlik so een of twee blikke lugversorger ‘n week gebruik in die badkamer, het ons toe skielik vyf verlede week gebruik.

Die langer lont wat die Diazapam my gee het darem nou die dag goed gewerk want ek het dit nodig gehad. En dit gebeur maar veral wanneer mense wat nie ‘n idee het van my tipe kanker nie vir my sê ek moet dagga probeer want dit werk. Al wat dit werk is om geld wat na farmaseutiese maatskappye sou gaan sodat hulle navorsing kan doen, gaan dit nou na privaat mense se sakke sonder enige kliniese toetse of bewyse dat dit werk. En dan praat ek nie eers oor die kwaliteit daarvan nie, en dat mense al gevang is dat hulle olyfolie verkoop as daggaolie. Indien dit sou werk sou Engeland en Australië mos lankal oorgeslaan het daarna toe as dit so goed is want hoekom sal hulle vir jou goed gee wat maandeliks in Rande hier by die R50,000 kos om simptome te beheer wat ek in elk geval nie kan kry nie, saam met nuwe diarieë medisyne wat $6,000 per maand kos. Hulle medies is gratis so hulle sal verseker in goedkoper maniere belangstel. Dan wanneer jy vir die persoon daarop wys dat daar in sekere state van Amerika wel dagga toegelaat en voorgeskryf word, die minimum dosis vir verligting van pyn 5ml is, en dat indien jy ingaan vir ‘n operasie dit moet verhoog na 10mm per dosis, drie maal per dag, hulle jou soos die pes vermy. En dan weet hulle nie dat die hofsaak wat persoonlike gebruik in Suid Afrika goedgekeur het deur die Appelhof omgekeer is nie en dit nogsteeds onwettig is in Suid Afrika om dit te gebruik.

Maar die leke weet mos meer as jy wat basies na elke video op die internet wat by elke Carcinoid konferensie opgeneem was, gekyk het. Al die videos word by die CCF webtuiste gehuisves.

Maar genoeg daaroor.

Ek het intussen my boeke skryf klaar gekry wat ek dink ek oor moes skryf, so nou het ek so ‘n bietjie meer tyd om na ander onderwerpe te kyk. Wat dit is weet ek nog nie, maar ek weet dit gaan nie nog boeke wees nie.

Verder gaan dinge maar stil stil aan. Die winter is hier met sy ryp elke oggend en die verwarmer brand in die sitkamer waar ons maar meeste van die tyd deurbring. Ek sit met my skootrekenaar op die skoot, waar anders, en Hettie is besig met haar goed, of brei, hekel, naaldwerk, rekenaar, foon of tablet.

Vandag se video is iets heeltamal anders. Pieter, my boetie, het ‘n video aangestuur waar een persoon ‘n acapella sing in al die stemme. Hy sing basies die lied vier of vyf keer, van tenoor tot bas en selfs so nou en dan hoër as tenoor, en voeg dan alles saam as een lied wat hom wys waar hy dit sing. So geniet dit.

Maandag 05 Maart 2018

En daar trek ons al diep in 2018.


Die jaar het vinnig begin en die tyd lyk my gaan ook nie stadig verby nie. Ons was vir so twee en ‘n halwe week op die plaas by Su-Hannie hulle, en het Esthee en klein Lars het kom kuier. Wat ‘n groot bederf. Ek het regtig nie gedink dat ek ooit eendag haar kinders sal ontmoet nie. En daar word ek bederf en kry ek toe tog die geleentheid.

En dan was dit nie net sommer dat hy net sy ma wou sien nie. Nee, hy het behoorlik met almal vriende gemaak, behalwe Coco. Sy is maar ‘n knorrige hondjie en het nie baie daarvan gehou dat die vreemde mensie aan haar moet vat nie. Haar kuierplek wanneer ons daar is is styf teen Hettie se regterbeen ingekruip en dan pas sy haar so op dat Hettie nie eers badkamer toe kan gaan sonder dat Coco haar volg nie. Maar jy kan haar altyd omkoop met ‘n stukkie biltong, dan is jy haar maatjie.

Maar klein Lars was die hoof aandag en trekpleister. Hy het so lekker met sy nefie Theuns gespeel al is daar amper 8 jaar verskil tussen hulle, veral as Theuns op sy skatebord sit en Lars hom kan stoot. Baie vinnig uitgewerk ek kan op twee knieë en een hand kruip en die ander hand die skatebord vashou sodat Theuns nie weg kan raak nie. Hy het so ‘n bietjie sonder ondersteuning begin regop staan en so ‘n paar treetjies na Oupa gegee, maar Esthee sê hy kan nie begin loop nie want sy het dit nog nie gesien nie.

En dan was dit so lekker om Esthee weer te kan sien en aan te vat en lekker gesels. Maar dit was lekker om net almal saam te wees. Ons het sommer die eerste Sondag deurgekom na Barney en Debbie toe om by hulle te braai sodat hulle ook darem deel kon hê aan die kuiertjie. Maar soos alle dinge kom als tot ‘n einde en is sy al meer as ‘n maand weer terug, eers ‘n draai by oupa Lars, en toe terug Melbourne toe. Gelukkig werk die Aussies anders as ons en het hulle haar pos gehou vir ‘n volle jaar en sien hulle ook uit daarna om haar weer by die werk te hê.

En Su-Hannie het na ‘n groot gesukkel met Unisa uiteindelik kon registreer vir haar laaste 6 vakke vir die semester en haar graad. So sy werk maar hard daaraan en om dan nog ma en taxi te speel vir die twee kinders op skool vat baie, veral as die skool so amper 25 km van die plaas is. Gelukkig huur sy maar ‘n woonstel op die dorp sodat sy na die kinders afgooi en gym woonstel toe kan gaan en daar leer. Maar na die einde van die semester het sy haar LLB in vier jaar gedoen, iets wat glad nie maklik is nie. En hulle het gelukkig ook baie water gekry soveel so dat sy nou die dag nie die kinders kon skool toe vat nie want hulle kon eers met veiligheid laat die middag met die voorhaker die boomstompe van die brug so tweehonderd meter van hulle huis af, verwyder. Gelukkig weet die onderwysers dit is platteland en stuur hulle sommer die huiswerk per whatsapp na die ouers indien die kinders nie by die skool kon kom nie.

Met ons gesondheid gaan dit maar wisselvallig. Hettie se duime sukkel nou met artritis en is baie pynlik met tye, maar ek dink sy het hulle dalk voos gewerk. Sy is so trots op haar hare wat nou weer heeltemal terug is, maar so krul dat die mense wonder of sy dit nie laat doen het nie. Haar een vriendin sê nou die dag nou kan sy sien waar Barney aan sy krulhare kom. En dan het sy vir haarself bederf en twee nuwe truie aangepak wat nou ook einde se kant toe staan. Maar nou vind sy ook uit soos ek uitgevind het dat die laaste 10% van die werk partykeer 50% van die tyd opneem.

Self is dit maar op en af. Die uitsaaīngs na die gesig se vel toe is nogal moeilik om partykeer te hanteer. Dit is eintlik maar die hele bolyf wat vol gewassies is maar gelukkig weet ons dit is nie veronderstel is om kwaadaardig te wees nie, net ongemaklik. Hulle juk partymaal en dan is hulle groot en dan weer klein so ek is maar redelik raadop met dit. Dan is daar maar net die ou ewige moegheid. En natuurlik hou die regterlong nie daarvan nie en dan val die onderste helfte plat en weet ek nie hoe om die pyn te breek nie. Die een uitsaaīng net agter die regteroor gee my nogal opdraande met hoofpyne wat sommer so vir drie dae nie wil breek nie, maar dan gaan ek maar weer aan. En nou gebeur dit al amper daagliks dat ek toilet toe gaan en al my energie sommer so terwyl ek sit by my hande en voete uitloop en weg raak. En baie keer is dit net ‘n geraas en stinkbom wat uitkom, so ek kan dit nie eers op die diarieë blameer nie.

En dan probeer jy nog om iets aan te pak en dan is self ‘n stukkie werk soos 10 minute se gras sny met die grassnyer en die kante te doen met die weedeater wat seker net 5 minute vat, en dan het ek weer drie na vier dae rus nodig voor ek weer kan dink aan die volgende projek, al is dit net om gif aan te maak en die rose te gaan spuit vir luise en roes en al hulle ou insekte wat hulle aanval. Maar gelukkig groei hulle nou verskriklik mooi. Ons eerste reën het eers hier begin Januarie gekom en staan ons nou net so onder die 200mm tot vandag toe. En ek kan maar natgooi maar hulle bars uit hul nate sodra dit reën is. So ek het ‘n groot plastiek bak onder die een afleipyp van die geut geplaas en nou al reën dit net een millimeter is die bak vol en kan ek al die rose uit die bak natgooi. En daarvan hou die ou lyf ook nie dat ek die 10 of 15 emmers water rond dra nie.

En dan het ek my boek Oor Struikelblokke en die Hoeksteen heeltemal hersien, en goed bygesit en uitgehaal. Op die ou einde het hy wel gegroei en is hy nou hier net oor 160 A4 bladsye lank van waar hy vroeër net so by 100 bladsye lank was. En dan het ek ook tyd gekry om na Esthee weer terug is en ons weer by die huis is, om die boek in Engels oor te skryf. So albei is nou gisteraand na my webtuiste toe oorgeplaas as “Oor Struikelblokke en die Hoeksteen”, en in Engels “On Stumblingblocks and the Cornerstone”. Vandaar al die veranderings in die Afrikaanse weergawe. En ek weet daar is nog ‘n gedeelte wat ek vanoggend gekry het om as voorbeeld oor Petrus se deugde te gebruik wat ek seker gedurende die week sal skryf en bywerk. So indien jy dit alreeds afgelaai het, doen dit maar weer want daar is redelik baie veranderings tussen Desember en Maart se weergawes.

So dit is maar ons nuus hier uit die Karoo. Gelukkig is hierdie dae van 40+ lyk my verby en is dit darem op ‘n warm dag net so by twee en dertig of drie en dertig grade, en op ‘n koel dag soos verlede week skielik net sewentien grade maksimum.

Ek het besluit om ‘n ou liedjie vandag te gebruik om mee af te sluit. Dit mag dalk oud wees maar is ‘n redelike nuwe opname maar die woorde is nogsteeds waar. Ek dink ek het self die liedjie hier in 1959 geleer by Louw Geldenhuis Laerskool in Linden.


Vrydag 08 Desember 2017

My laaste boodskap. (Dalk net vir die jaar)

En so kom nog ‘n jaar aan sy einde. Vir ons was dit ’n moeilike jaar gewees. Nie altyd geweet wat gaan volg nie en ook nie wat om elke dag te doen nie.

Hettie het sommer vroeg die jaar haar ondersoeke gehad en is sy in vir ‘n bilaterale mastektomie en toe vir chemo daarna. Gelukkig het die laaste bloedtoetse in September gewys alles is reg en weet ons dat die kanker weg is. Dit was net interessant dat die dokters gesê het dat haar ma dieselfde geen as sy gehad het maar dat dit die oorsaak was van haar kanker aan die ingewande.

Vandag sukkel sy maar met baie vog wat opbou in die arms en bokant die maag want al die limf nodes is verwyder en nou moet sy maar probeer om nuwe weë te skep om die vog af te dryf. Dan is die spiere ook nie 100% teruggewerk nie en is sy nou maar bors loos alhoewel sy “falsies” het, want haar onderklere bly opskuif en dan sit die goed soos ruikers op haar skouers. Sy het net ‘n lekker bos krulle bygekry en lyk haar hare nou van nature of sy dit baie krul. Maar dit pas haar en lyk sy pragtig. Haar hare onder die arms het verdwyn en het ek vanoggend een vir haar met ’n skêrtjie afgesny aangesien sy hom nie kon sien nie. Maar hy is maar baie eensaam daar onder die arm.

Self kan ek maar min sê. Die gewone ou pyne is daar, maar die regter long se funksie verswak maar verder, die hart is so nou en dan ’n bietjie seer en die arms en bene het nie veel krag nie. Dan het die ou Carcinoid versprei na die vel, wat volgens die geleerdes in Amerika maar baie seldsaam is, maar ongelukkig op eindtyd simptome dui. Dit voel net of ek op die strand geloop het met ‘’n nat kop en die wind het gewaai. So my voorkop, so hier en daar in die hare, onder en agter die ore en dan die nek voel maar grof. Dan leer ’n mens maar deur goed te probeer en te sien wat werk en wat werk nie. Die studie beskryf dit soos volg: “Metastases to the skin seem to be a late manifestation of advanced disease, but data in the literature are scant and limited to single case reports only [30]. These metastases may present as painless subcutaneous nodules [30], but sometimes they are extremely painful [31]. The pathogenesis of the severe pain encountered in these often tiny metastatic deposits remains difficult, as neural involvement is not a consistent finding. Pain can be difficult to manage with analgesics, but local excision has been demonstrated to provide satisfactory long-term palliation [31]”. Myne het ek maar beklemtoon.

Ek het probeer om ’n aanvulling te vat aangesien ek maar min opneem in die 90cm dunderm en toe vind ons dieselfde reaksie as die antibiotika. Binne 2ure is die maag deurmekaar en kom sommer alles uit en die neus dink hy het ‘’n erge slymerige verkoue van die histamien en daar is nog  ‘n proefneming op ’n einde. So dit is maar hoe dit gaan.

So op die einde van die jaar wil ek ook graag ’n ietsie deel oor hoe ons as Christene moet leer om te lewe in die komende jaar. Ek het baie jare gelede ’n stuk geskryf en wil graag hier ‘’n kort gedeelte aanhaal en dan net so ’n ietsie vir jou vra.

“Psalm 34:18  (34:19) "Kof. Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees. Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom." “Psalm 51:17 "Die offers van God is 'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!"

Die albaste fles

“En toe Hy in Betánië was, in die huis van Simon, die melaatse, terwyl Hy aan tafel was, kom daar 'n vrou met 'n albaste fles met egte, baie kosbare nardussalf; en sy breek die albaste fles en gooi dit op sy hoof uit”. Die salf hier verteenwoordig Salwing of Lewe. Dit was baie kosbaar, maar dit was gestoor in ‘n albaste fles. Albaster is ‘n tipe klip wat gebruik is om flesse van te maak. Om die binneste vry te stel, moes die uitwendige gebreek word. Hoeveel van ons hou meer van die fles as van die salf. Kom ons kyk verby die "flesse" en instrumente van God na die salf wat ongehinderd en vryelik voort stroom. Die lewe is in die houer, maar die houer moet gebreek word. Indien ons houers van hierdie salwing wil wees, laat ons die HERE vra om ons te breek sodat ons hierdie verborge geur en salf kan voortbring.

My vraag is net dit: Is jy nog ongeskonde of is jy so stukkend dat die HERE se salwing netdeur jou vloei sonder dat iets agterbly?

My bede vir die jaar wat voorlê is dat jy jouself sal beskikbaar stel dat Sy olie deur jou ander se lewens kan aanraak.

Dit is my boodskap vir hierdie feestyd wat ons ingaan, dat ons Jesus se hande en voete sal wees aan ‘’n wêreld wat dors na Hom.

Jesus het dit so mooi uitgedruk wat sal gebeur: En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie. (Joh 7:37-39)

En dan ‘’n lied wat op die gedeelte baseer is vir ons om na te volg.


Sterkte vir 2018. Tot ons weer gesels.

Saterdag 11 November 2017

Saterdag 11 November 2017

Ek kan nie glo dit is amper twee maande gelede wat ek iets geskryf het oor ons nie. Dit was maar net iets wat ek geweet het ek moet seker een of ander tyd iets doen, maar nooit die tyd gevat het om dit te doen nie.

Die weer is baie deurmekaar die jaar. Ons het gegaan van baie koud na redelike begin lente weer, toe skielik uiterste somer vir ‘n paar dae, toe weet ryp, toe weer koue dae, toe weer lente, somer en winter binne ‘n week, en nou lyk die week weer soos een van die weke. Vandag verwag hulle 26C hier by ons wat net lekker weer is. More is dit skielik 35, Maandag 34, dan val dit na die middel twintigs, en dan verwag hulle sneeu vir Woensdag of Donderdag met maksimum temperatuere van 13 en 11C. So weet nie wat gaan gebeur nie. Sien dit maar aan die vrugtebome ook. Die enigste bome wat vrugte het is die wat in beskutte plekke is, so geen perskes by ons nie.

Met Hettie gaan dit regtig goed. Haar hare kom baie mooi aan, en krul regtig baie. Maar dit is pragtig en het sy ook uitgevind met haar laaste bloedtoetse dat alles negatief wys. So dit lyk of sy dit op die regte tyd kon vind en dat alles nou net vorentoe goed sal gaan. Sy sukkel maar net met die water wat nie wil afwerk nie en is die arms en lyf vol water. Dan het hulle natuurlik ook al die spiere wat aan die borste was wat van die maag kom moes lossny, so hulle is ook maar ‘n bietjie losserig.

Ek weet nie wat met myself aangaan nie. Ek het gewoont geraak aan die maag soos wat hy was en al die ou ander gevolge soos moegheid en maar seer van die uitsaaings. Toe het Andre en Hester, dit is nou Hettie se suster Vienie se seun en sy vrou, al is hulle net ‘n paar jaar jonger as ons, hier kom oorslaap en het ek die oggend gevoel of ek ‘n bietjie verkouerig is. Voor ek weet wat my getref het, het die gewas soveel histamien afgesky dat ek baie erge sinisitus ontwikkel het en dat die dokter gedwing was om antibiotika voorteskryf om dit te probeer opklaar. En daar hou my maag en derms nie van die antibiotika nie en begin my maag pla wet so ‘n groot pla dat ek die Saterdag 80 keer toilet toe is, en altesaam 240 keer in 4 dae die toilet besoek het. Toe is dit probiotics, ander medisyne en jogurt om die maag reg te kry, en voor ek my oë kan uitvee sit ek weer met die sinisitus waar dit was. En dit is nou waar ek die afgelope 4 of 5 dae weer is. So ek weet nie wat het my getref nie want ek het nie gesien toe dit gebeur het nie. Die enigste voordeel is dat ek nou darem net so 4 of 5 keer by die toilet uitkom op ‘n dag waar ek gewoont was aan so 20 keer.

Verder is daar nie juis nuus nie. Ek sukkel om my kop rondom ‘n onderwerp te kry wat ek nou al ‘n paar weke aan skryf, maar die normale gedagtegang is nie daar nie, en ek kry nie die vloei van die gedeelte reg nie. Ek sal maar verder sukkel totdat ek dink ek het alles reg. Ek het darem al die boeke op my webtuiste weer op datum gekry met my standpunte want ek het geleer ek is maar self my grootste kritikus en moet so elke nou en dan gaan krap en goed byvoeg om dit dalk makliker te maak om te verstaan. Andre het my ook gevra hoekom ek nie die boeke instuur vir publikasie nie, maar ek kan net ‘n uittreksel uit ‘n epos insluit wat ek nou die dag gekry het nadat ek toe besluit het om maar weer iets in te stuur maar reeds geweet wat die uitslag sal wees. ”U artikel kan ongelukkig nie oorweeg word omdat dit nie voldoen aan die karakter van ons blad en aan die spesifieke vereistes vir navorsingsinhoude wat ons stel nie. Wees verseker dat hierdie brief nie enige refleksie op u werk wil werp nie. Dit dui alleen maar aan dat u werk ‘n ander karakter vertoon as die akademiese vakartikels wat ons in ons tydskrif plaas.” Die interessantheid was dat die vereistes skielik tussen die Donderdag wat ek dit ingestuur het, en die Dinsdag wat ek die antwoord gekry het, hersien is aangesien ek wel die vereistes gestoor het om seker te maak dat dit aan al hul vereistes voldoen, maar toe ek die Dinsdag gaan kyk toe is daar seker nog 20 verdere vereistes by geplaas waaraan artikels of boeke aan moet voldoen. Geen iets wat ek geskryf het sal nou ooit aan hulle vereistes voldoen nie. En al die uitgewers druk mos net dagstukkies en “voel goed” boeke van bekende persone.

So dit is maar waar ons is. Ons kan nie wag vir Esthee om Januarie te kom kuier met klein Lars nie. Dan gaan ons sommer sy eerste verjaarsdag ook hier kan vier.

So tot volgende keer, mooi loop en sterkte vir elkeen met julle paadjies vorentoe.

My lied vir vandag is iets wat Hettie baie na aan die hart lê. Geniet dit.


Vrydag 15 September 2017

Vrydag 15 September 2017

Vrydag 15 September 2017

Daar het nogal baie gebeur die afgelope maand of wat. Vir myself was dit sommer ‘n klomp mylpale. Of is dit nou kilometerpale? Daar was eers ons troudag herdenking van 45 jaar, die volgende dag my verjaarsdag en amptelike aftree datum volgens verskeie wette op 66, en dan my tweede verjaarsdag op 31 Augustus wat ek nou al vir 22 jaar vier nadat hulle so “per abuis” hierdie vreemde kanker in my ontdek het.

Ek het nou die dag weer gekyk na die oorspronklike brief wat die onkoloog vir die chirurg gestuur het. Gelukkig het ek eers 4 jaar gelede ‘n afskrif daarvan bekom, nadat ek deur my eerste Carcinoid krises gewerk het en die onkoloog ‘n afskrif van die oorspronklike verslag wou kry. Gelukkig het ek vir 18 jaar nie geweet wat daarin gestaan het nie, want dit sou nogal moeilik gewees het om dit daardie tyd te verwerk het. Die onkoloog het dit as volg gestel: “Soos telefonies met jou bespreek is die verdere hantering van hierdie pasiënt werklik problematies. Soos jy goed weet is radioterapie effektief simptomaties vir metastases wat pynlik is, maar dit is nog nooit in die adjuvante, “my vertaling (aanvullende)”, situasie getoets nie. Vanwee die problematiese area, nl. die dunderm is bestraling in hierdie area ook potensieël geneig tot komplikasies. Chemoterapie response wissel van 20-40% en daar is geen literatuur beskikbaar oor die adjuvante gebruik daarvan nie. Somatostatien-analoë is uitstekend vir simptomatiese behandeling (maar nie tumor behandeling nie) van gevorderde pasiente.”

Verder sit ek darem al van Dinsdag af met ‘n kortbroek vir die eerstekeer die lente, en begin daar orals tekens van lewe in die tuin kop uitsteek. Ek hoop nou net die ryp is verby want ons het nog twee weke gelede so ‘n swaar ryp gehad dat die dakke eers hier van 8:30 in die oggend begin smelt het. Indien dit weer gebeur is dit soos verledejaar waar daar geen perskes of appelkose aan enige boom was nie. Nou sien ek hulle verwag maar 16C vir ons vir Saterdag, en dit maak my bekommerd. Maar, verlede jaar se laaste ryp was eers in November, so dit kan nog baie maklik gebeur.

Gesondheid by ons is goed en wisselvallig. Hettie gaan goed aan behalwe vir die water wat nie wil afwerk in die arms en lyf nie. Al die limfnodes is tydens haar operasie verwyder en nou moet daar nuwe paadjies gevorm word om die water te dreineer. En dan het sy ook die week besluit sy kan nou maar haar kort hare vir almal wys en loop sy nie meer met ‘n mus of kopdoek rond nie. Sy het nou nogal bietjie meer hare gekry, en hulle kartel weer so ‘n bietjie. Net hulle is baie meer grys as voor die chemoterapie. Maar sy gaan aan en is weer haar ou self. Sy gun haarself ook baie meer tyd vir haarself en het geleer om nee te sê vir mense wat net altyd aangeneem het sy sal goed vir hulle doen.

Self is dit nie altyd lekker nie. Ek werk so gereeld amper elke dag deur ‘n Carcinoid krises waar die are net platval en ek geen energie het nie en dit tot 2 of 3 ure vat voordat ek weer “reg” is. En dan sukkel die gewas nou ook om seer te word en knyp hy al hoe meer die hoofaar wat deur hom gaan toe. So die linkerlong begin nou ook in die onderkant plat te val, die derms sukkel om kos deur te laat of besluit net om alles weg te gooi, en dan met die bloed wat sukkel om deur te kom vind ek uit dat die hart ook kla. Dit is nou so gewoonlik een of meer kere per dag wat ek voel dat die hart kla en weet ek nou presies waar hy sit. Hy raak maar net seer wanneer daar nie genoeg bloedtoevoer na hom self gaan nie.

Die uitsaaïngs is ook maar seer maar ek raak maar gewoont daaraan. Daar is kere wat ek moet voel of die goed nog seer is, maar dit is maar gewoonlik wanneer die ander seerplekke seerder is. Dan met die verandering van die seisoen is die ou rumatiek ook pynlik en voel ek party dae soos ‘n ou omie met al die gewrigte en goed wat nie wil buig of regop kom nie.

Dan het ons skielik sommer baie gaste die volgende paar naweke. Hierdie naweek kom Vienie, Hettie se suster, se seun Andre en Hester by ons oornag en kuier op pad na sy ma toe. Hy het besluit om sy 60ste verjaarsdag daar te gaan vier, en dan kom hulle die volgende naweek weer aan op pad terug Pretoria toe. 

So dit is omtrent ons nuus. Met die kinders en kleinkinders gaan dit goed. Theuns oefen hard aan sy golf en het nou die dag sy eerste toernooi aan deelgeneem, en vir ‘n agtjarige is dit nogal ‘n mylpaal. Dan het Jana weer ‘n klomp goed gekry vir haar viool en redenaars kompetisies en het sy ook een van haar eerste solo stukke gespeel. En tussen dit probeer ma nog om haar laaste jaar LLB te doen. En dan laaste is daar die klein Aussie wat sy ma toegeknoop het in sy sak. Hy het so ‘n lekker laggie en weet hoe om ma se aandag te kry, so sy moet maar bontstaan. Ons geniet dit want dan kry ons sommer skielik oproepe van haar wanneer sy twee of vieruur in die oggend moet opstaan vir hom.

So tot volgende keer geniet die lente. My lied kom van ‘n paar mans wat ek en Hettie baie van hou om na te luister en te kyk. Dit is ook waar ek hoop die mense my sal kry die dag wanneer ons nie meer op aarde is nie.

Of dalk is ek hier

Sondag 06 Augustus 2017

Sondag 6 Augustus 2017

Sjoe dit is ‘n lang tyd terug wat ek laas iets laat weet het. Maar dit is maar hoe die lewe is, partykeer is daar sekere goed wat baie aandag kry en dan is daar weer ander goed wat weer aandag kry.

Hier by ons het ons nog nie regtig kapok gehad die jaar nie. Net die eendag het dit vinnig geval vir so 10 minute, en toe is dit weg. En dan het die vlokkies ook so tussen die reën deur ook geval maar het as druppels die grond gehaal. Die winter is volgens die plaaslike mense, die wat nou al baie jare hier bly, ‘n gewone winter maar baie koue wintersoggende. Ek het soveel plante wat die jaar dood is en die vorige drie winters oorleef het, so ek dink ek stem saam met die koue oggende. Veral as jy elfuur in die oggend kyk en die temperatuur buite is so net oor vriespunt, en binne die kombuis so tussen 6C en 7C. Maar skielik die week het dit verander dat dit sommer amper 20C in die dag haal, en gaan af tot so -3C in die oggende. Dan kan ons nie kla nie. Ek dink ons koudste oggend die jaar was hier net by -13C. So nogal koud. En toe skielik gistermiddag toe ek vir ons ‘n vleisie op die vuur gooi, toe kom daar ander wolke oor as wat is die afgelope 2 dae gehad het en toe voel en lyk dit soos kapok weer. Maar toe is dit weer weg.

Hettie is oppad om goed te herstel na haar bilateral mastektomie. Die hare kom weer uit, dalk meer grys as voorheen, maar soos sy sê nou het sy net meer natuurlike highlights. Sy loop nog met ‘n mus want die kop raak maar koud sonder hare, en haar hare is maar nog kort. Ons is so bly dat dit soveel beter gaan met haar en is sy vinnig besig om weer haar kragte op te bou. Maar dit is hoe ek haar ken. So nou en dan raak dinge te veel in haar lewe, maar dan word dit hanteer en dan gaan sy weer aan. Sy geniet dit dat sy weer kan pottebakkery toe gaan en hulle as groep weer saam kan werk. En dan het die kunsleerlinge gevra of sy nie weer wil begin nie, want hulle mis die saam wees. So sy is besig om weer in haar element te kom en dit is lekker om te sien dat sy weer uitsien na die kuns want dit is vir haar so ‘n groot lekkerte om mense te help en dan ook so tussen deur iets vir haarself te doen. Vir haar is die dae te kort want sy het te veel handewerk om te doen. As dit nie brei is nie, is dit hekel, of naaldwerk, en dan kom die potte en kuns ook nog tussen in. En dan pla ek ook nog.

Met myself is dit maar wipplank ry. Daar is nou nuwe uitsaaïngs op die ribbes. Die een wat nogal pla is reg by die hart, en dan kla die op die skedel ook maar. Wanneer ek op my regtersy slaap raak die regter een agter die oor baie seer en kan ek nie aan die gedeelte om die oor vat nie, en wanneer ek op die linker sy lê dan trek die gewas die bloedvloei heeltemal toe aangesien die ou gewas nou altwee kante van die gewas probeer om die hoofaar toe te maak. So ek sukkel maar met asemhaal want die regterlong se onderste gedeelte kry nie meer bloed nie en het sy funksionaliteit verloor. Die week het die linker long ook begin kla en seer word, so ons wag maar en kyk wat daar gaan gebeur. Dan is daar nog die gevoel dat ek heeltyd versmoor, want daar kom nie genoeg bloed deur om suurstof te kan opneem en na die res van die liggaam te vat nie. En dan word die ou gewas aanhoudend groter en die spasie in die buik al hoe kleiner. Dit is nou al gewoonte om te eet, toilet toe te gaan om weer plek te maak vir die vars kos, en dan is dinge weer min of meer reg. Maar ek word maar gewoond elke week aan die nuwe omstandighede en dan gaan ek maar weer aan. Van tou opgooi is by my daar nie sprake nie en bestaan dit nie in my woordeboek nie. Nie nou nie en nooit voorheen in my lewe nie.

So ek doen maar min goed in en om die huis want die energie is net nie daar nie, en die seer is maar plaerig. Ek hou myself maar besig met skryf, en het so ‘n paar weke gelede Jesaja nader getrek. Ek het oorspronklik so tien jaar terug begin om so ‘n kort opsomming te doen oor wat Jesaja vir ons vandag beteken en het toe opgehou hier by hoofstuk 10. So nou het ek dit maar ‘n basis gebruik en gaan nou baie meer in diepte in en weet dit gaan my nog ‘n redelike lang ruk aan die gang hou. Ek is nou by hoofstuk 22 en dit trek al by 75 A4 getikte bladsye, so dit wil lyk of ek hier so net oor die 200 bladsye gaan hê wanner ek klaar is. Maar dit is wat ek geniet want dit hou my besig met dit wat na aan my hart lê. En ek is die ou wat op die ou einde die meeste leer, en dit is waaroor my lewe gaan. Die lewe is net te kort om nie te leer nie, veral nie van die HERE nie, en jy is ook nooit te oud om te leer nie.

Dan gaan dit goed met ons klein Aussie in Melbourne en raak hy elke keer wat ons met Esthee praat of whatapp, net groter en ouliker. Vrydagaand juis ‘n video gekry waar hy in die kombuis op sy stoel sit en lag en dan sy speelding op die grond gooi want hy weet ma kom tel op en dan kry hy ‘n paar soentjies. So hy hou sommer al die mondjie reg. Die vingertjies is nog bietjie dom om oop te maak, so hy werk nog daaraan.

Ek moet hierdie week my rose snoei en nuwe plantjies maak van die stukkies wat ek afsnoei, so ons sal maar sien watter dag of dae dit gedoen sal word. En dan moet die perskeboom ook gesnoei word, nie dat ons vrugte kry nie. Verlede jaar was hy pienk van die blomme en toe kom die ryp. Nie een perske aangehad nie. Maar hy gee darem bietjie koelte vir die rose hier in Januarie wanneer ons 40+ slaan.

My liedere vandag het nogal spesiaale betekenis in my lewe. Die eerste een het Esthee my laat hoor toe sy met die cd by die huis gekom het. Dit is ‘n fantastiese opname en so ook die tweede lied is seker van die ou wat die mooiste stem het in gospel musiek vandag. So ontspan en geniet dit saam met my.

Die eerste lied is hier. 
https://www.youtube.com/watch?v=oas1vwK6ALU&list=RDoas1vwK6ALU#t=66  Shalom Jerusalem - Paul Wilbur Die ou is ‘n bekeerde Jood en wys nog sy wortels met die lied. Ons het die hele VHS opname gehad  en die CD maar die VHS opname het verdwyn oor die jare, maar gelukkig vir youtube het ek nou die dag die hele opname weer gekry. So gaan kyk maar by https://www.youtube.com/watch?v=RKnJHkHV2fE&list=RDRKnJHkHV2fE#t=104 vir die hele lewendige opname. Daar is na seker 20 jaar plus nog tye wat ek trane afvee wanneer ek na die volledige opname kyk.Hierdie is ‘n 1 uur en 10 minute se opname so dit kan jou data baie vinnig opeet. Al stem ‘n mens nie altyd saam met die teologie nie, glo ek jy haal daaruit wat vir jou iets beteken, en weet ek dat die HERE elke ding kan gebruik om mense se aandag te kry. Indien jy wel die hele opname na kyk is daar een lied wat so pragtig is dat ek vir jare die inleiding as my “ringtone” op my foon gebruik het. Dit begin met regte basuine wat geblaas word. Ons het het twee koedoe horings en ‘n ramshoring maar om dit so te kan blaas is bokant my vuurmaak plek. Die lied is hier https://www.youtube.com/watch?v=k--jh8HuaNc I lift up my eyes.

En dan die tweede opname is by https://www.youtube.com/watch?v=LrhSjP5988E David Phelps End of the beginning. Die passie waarmee die ou sing en die strek van sy stem is net fantasties.

So tot volgende keer, geniet Augustus met al sy verjaarsdae in ons gedeelte van die Erasmus en Van Vreden/van der Walt familie. Siewn weer.

Woensdag 28 Junie 2017

Woensdag 28 Junie 2017

Ek wil vandag so ‘n bietjie anders skryf as in die verlede. Waar ek gewoonlik maar net oor wat met die gesondheid aangaan geskryf het, het ek ook so ‘n gedeelte bygevoeg oor waarmee ek my besig hou, en dit is om maar te skryf oor moeilike onderwerpe van die Bybel, en dan van hulle ook as videos op youtube te laai.

Maar soos gewoonlik eers hoe gaan dit hier in die Karoo. Ons het gisteraand so 9mm reën gehad, en so 8mm voor dit gedurende die vorige week. Ons het so ‘n paar warmer oggende gehad waar ek gesien het dat dit darem nie onder vriespunt geval het nie, maar dan was daar dae waar ons eers teen 12 uur warm water in die kombuis gehad het. Dit is interessant dat altwee pype toegedraai is om te voorkom dat hulle ys, maar die warm water doen dit elke jaar. Soos een van Su-Hannie se vriendinne gesê het was dit nou die oggend -14C by hulle. Ons het darem so by -8c gedraai. Maar ten spyte daarvan dink ek ons is besig om aan te pas, of ons kom net nie meer so baie buite nie, want dit is vir my meer verdraagsaam die jaar as verlede jaar.

Ek het eers gister my dons duvet op die bed gesit nadat ek uitgevind het die warm kombers hou onder warm maar bo kry koud hier van 3uur in die oggende.

Met die gesondheid is dit maar elke dag moeilik. Gelukkig is Hettie klaar met haar chemo en kan sy nou begin aansterk. Selfs die hare kom darem nou weer soos “fluff” uit, maar dit lyk of sy die paar bruin hare wat sy nog gehad het, verloor het. Sal maar sien hoe lank dit gaan vat en of die hare darem ‘n bietjie meer is as voorheen en of daar kleur gaan wees of net wit.

Met myself is dit maar baie wisselvallig. Net wanneer jy dink jy het nou uitgevind wat die een seer veroorsaak dan vind jy uit dit is eintlik iets anders. Ek het nou al vir ‘n baie lang tyd, seker 3 jaar al, wat ek in die begin so ‘n steek pyn in die rug gekry het wat vir my gevoel het of dit die regter nier is wat so seer word. In die begin het ek dan maar ‘n bietjie beweeg of gestap en dan het dit beter geword of selfs verdwyn. So ‘n rukkie gelede het ek gevoel dat my longe die een aand wil ingee want hulle was baie seer en die rede was dat die longe nie genoeg bloed kry om suurstof na die liggaam te vervoer nie. Terselfdertyd het dit gevoel of iemand my so half wil versmoor, want die keel was maar ongemaklik.

Nou na baie proefnemings het ek uitgevind dat die seer nier nie ‘n seer nier is nie, maar deel van die regterlong wat nie werk nie. Ek het eers verledejaar uitgevind dat daar ‘n gedeelte is wat nie werk nie, maar nou weet ek dit is die seer wat ek kry. Dit het ek maar agtergekom van op verskillende maniere in die bed lê en wat die gevolge is. Wanneer ek op my regter sy lê word die pyn minder, en wanneer ek op die linker sy lê dan versmoor ek myself. So dit is maar ‘n rondtol in die nag op die bed om te verseker dat alles reg is en ek darem nog die volgende oggend wakker word. Dit is net moeilik om te voel hoe jy net sit en skielik gryp iemand jou om die keel en probeer jou verwurg. Dan weet ek ek moet maar opstaan of anders lê, want binne minute is die longe seer want hulle kry nie genoeg bloed nie.

So dit lyk maar of die gewas nou besig is om die onderste aorta heeltemal toe te druk, en/of die seretonin wat die gewas afgee die aar nou heeltemal wil verstop. So wanneer ek ‘n goeie dag het soos vandag dan voel ek weer die seer van die uitsaaïngs na die skelet, veral die oor en die ribbes en die sleutelbeen wat nou al altwee sleutelbene is, en dan die borsbeen. Maar ons vat dit maar dag vir dag. Die een aand wonder jy of jy môre gaan wakker word, en dan voel jy weer dat daar nog baie tyd oor is.

Soos ek in die begin gesê het, wil ek net so ‘n ietsie bysit oor my bediening en wat ek daarmee doen. Dit is nou die plek waar ek maar redelik kontroversieële onderwerpe aanraak, of mense nie graag wil hoor wat die Bybel vir ons sê rondom ‘n onderwerp nie.

So vandag wil ek graag vra: Watter tipe Christen is jy? Volg jy dalk die “Liewe Jesus” sindroom?

Ek wil graag vra of jy jouself met ‘n sekere groep Christene indeel, en of jy maar saam met die meerderheids opinie mense gaan?

Ek hoef net na Facebook te kyk en al wat jy sien is hierdie mooi versie uit die Bybel, of selfs hierdie mooi woord van die Dalai Lama, of moeder Teresa, of selfs Confusious, nie dat die laaste klomp Christene is nie. Mense kan nie wag om te sien wat vandag se dagstukkie vir hulle gaan inhou nie, want hulle wil net weer op die skouer getik word en gesê word alles is reg. Hulle sal altyd mense soos ‘n Joel Osteen volg want hy bou sy gemeente daarop dat hy nooit sonde sal aanspreek nie.

Ek weet ‘n mens het nie heeldag net gedeeltes nodig wat vrae vra nie, maar wanneer jy wel in die regte verhouding staan, kan hierdie gedeeltes jou dalk net so onderskraag as die “vuil” versies. Dis nou die versies wat so gebruik word dat die Bybel se bladsye by hulle al vuil is, terwyl ander dele van die Bybel nog nooit oopgemaak is nie.

Dit is hoekom ek aan die begin gevra het of jy dalk die “Liewe Jesus” sindroom volg. Wanneer ons hoor dat Jesus sy eie sweep gevleg het voordat hy die klomp uit die tempel gejaag het dan sien jy hoe mense terug deins. Dit is so dat ons nie altyd daardie gedeeltes wil hoor nie, want dalk is jy reeds in ‘n diep gat en het jy nodig om te hoor hoe lief Hy jou het. Maar ek kan die tempel voorbeeld ook omswaai en jou daaruit vertroos, want Jesus maak seker dat valsheid nie maklik teen ons gebruik kan word nie.

Die grootste probleem wat ek het met al hierdie ou mooi versies is dat dit ons versie Christene maak, die “Liewe Jesus sindroom” en nie dissipels van Jesus nie. Want ek moet as dissipel leer om beheer te neem en soos Jesus te word.  Ek moet kan optree soos Hy opgetree het, want ‘n dissipel doen soos die Een waarvan hy ‘n dissipel is.

So met dit as agtergrond het ek redelik baie goeters by my webtuiste bygevoeg, dinge soos “Op ‘n drafstap deur Romeine” ‘n verduideliking van Mattheus 24 en 25, en dan ook videos gedoen oor Jode en die Kerk, watter is watter en sommer ‘n hele klomp ander goeters ook. So gaan maak maar daar ‘n draai indien jy wil by http://www.shama.org.za vir my webtuiste waar jy ook skakels sal kry na my youtube kanaal by: https://www.youtube.com/user/LouwErasmus

Soos gewoonlik sluit ek ook af met ‘n ou video wat my nogal troos, en dit net makliker maak om te glo dat Hy my ook as Sy kind liefhet.



Dit is Phillips Craig and Dean met “When God Ran”.

Saterdag 03 Junie 2017

Saterdag 3 Junie 2017



Dinsdag is dit Barney se verjaarsdag, en kan ek nie glo ek is dan al 42 jaar lank pa nie. Ek kan nog goed onthou hoe Hettie die aand voor sy geboorte ons deken se bondeltjies wol af gemaak het, soos wat jy partykeer op ‘n trui kry, en ek vir haar gesê het sy moet rus, want die baba kon enigetyd kom. Daardie dae was dit nog ‘n groot verrasssing wanneer die baba gebore word om te sien of die ‘n seun of dogter is. En my woorde was nog nie eens koud toe sê die hospitaal sy moet maar inkom en ek kan gaan slaap, want die eerste baba vat mos maar lank. Min het hulle geweet dat ek twee ure later moes jaag om betyds by die hospitaal te wees vir sy geboorte.Gelukkig was daar nie verkeer halfvier in die oggend nie. Ons het later jare vir Barney gespot omdat die hospitaal in ‘n ouetehuis verander is in Emmarentia in Johannesburg, en gesê hy sal altyd goed met ou mense oor die weg kom, en min geweet dit is maar wie hy is, die wêreldse geduld met almal.

Een iets wat ek sedert my vorige skrywe uitgevind het is dat ek alreeds daardie tyd Carcinoid sindroom gehad het. Om die waarheid te sê nadat ek vir ons facebook groep moes dink wanneer ek die eerste simptome van die ou siekte gehad het, het ek uitgevind ek was so 15 jaar ou toe dit begin het. Geen wonder dat hulle in 1995 al ‘n gewas van oor die 100mm kon verwyder het nie. En dit vir ‘n baie stadig groeiende kanker. My huidige gewas is nou eers 77mm lank na 22 jaar.

Ek het vroeg  al gesukkel met wat die dokters maar toegeskryf het aan hooikoors of allergiese reaksie teenoor sekere stowwe, ek seker elke maand deur 2 bottels Kem-o-Dene, ek kry nou nog die reuk wanneer ek daaraan dink, gegaan het om die diarieë in toom te hou, en die besoeke aan die dokter wanneer ek soos ‘n sak patats inmekaar gesak het van lae bloeddruk. So na al die goed lyk dit vir ons groepie of ek sover die langste met die kanker al rondloop in ons groepie, so oor die 51 jaar al.

Na ek al die vrae beantwoord het wat die ou Prof Woltering in die VSA gevra het, het dit my eers getref hoe die ou siekte ‘n mens se persoonlikheid kan verander, van iemand wat altyd maar geluister het en raad gegee het met almal se probleme, na iemand wat nogal baie vinnig warm onder die kraag kan raak. Net nie aan my verkeerde kant kom nie, terwyl ek eintlik maar ‘n baie rustige ou was vroeër jare.

So waar staan ek vandag? Die ou gewas om besig om die hoofaorta (onderste een tussen jy derm en ander organe) toe te maak. Ek sukkel maar met pyn in die buik want dit voel of die derm nie genoeg bloed kry nie, en so nou en dan kry die longe nie genoeg bloed om suurstof na die res van die lyf te vat nie. Die niere is nou al pal vir die afgelope jaar of wat waar hulle met minder bloed moet klaarkom. So wanneer die ou aar gaan besluit hy is toe, weet ek nie wanneer dit gaan wees nie, maar dit kan seker nie meer te lank wees nie.

Hettie het nog twee chemo behandelings wat voorlê, en dan is dit darem agter die rug. Sy sukkel maar met die nuwe chemo aangesien dit haar erge infeksie gee waar hulle dit toedien. So sy vat maar ‘n week of meer voordat sy min of meer weer haarself is, net om weer te begin. Ek dink ons sal albei nogal bly wees wanneer dit verby is want ons raak maar moeg vir lewer, brokkoli, spinasie en al die kos hoog in yster om haar reg te kry vir die volgende keer.

En die winter het by ons geariveer, en sien ek dat ons volgende week Donderdag en dan later op Saterdag of Sondag, dalk sneeu kan verwag. Die ryp was net baie vroeg die jaar, al voor 15 April, en jy sien dit sommer op die plante. Van die plante begin aan te pas aangesien dit nou al hul vierdie winter is, en hulle redelik hard geword het en beter bestand is teen die lae temperature en ryp.

So dit is maar al van ons kant. My liedjie vir die keer se skrywe In the time that You gave me:

Dinsdag 09 Mei 2017

Dinsdag 9 Mei 2017

Ek sien ek het lanklaas iets laat weet van ons kant af. Maar met al die vakansiedae en dinge wat maar by ons aangaan, is daar nie altyd tyd om net rustig te word en te skryf nie.

So kom ons begin by die weer. Die winter is hier by ons met ryp wat my grasperk klaar geel het, die lelies se blare is weg, en waar jy kyk in net blare. Ons slaap al met winter beddegoed, alhoewel dit darem nog nie nodig is om warmkomberse aan te sit nie. Ons kry so af en toe nog ‘n lekker bui reën, maar ek sien dat ons dalk die naweek ‘n bietjie kapok kan kry. So as julle koud kry het ons heel moontlik die mooi gekry. Maar ek sal maar sien wat die weer later die week sê.

Hettie het nou haar “red devils” agter die rug, en nou is dit nog drie chemo behandelings wat voorlê. Sy vat dit baie goed en is gewoonlik die eerste week so ‘n bietjie rof maar daarna raas sy met my as ek wil winkel toe loop, want dit is haar oefening. So dan laat ek haar gaan want dit is seker beter vir haar as vir my om te gaan.

Ekself is maar nie altyd lekker nie, om die waarheid te sê het ek redelik lank laas ‘n paar lekker dae na mekaar gehad. Die lyf is maar seer van die uitsaaïngs veral die na die sleutelbeen, nek en kop, en die Rhumatoid Arthritus, so ek kan nie juis swaar werk doen nie. Glo my as ek sê swaar werk is nou soos ses dae vat om ‘n perskeboom te snoei. En dan is die gewas nou maar besig om my te waarsku dat hy die hoofaar tussen die derm en die lewer finaal wil toemaak. Ek kry sulke tye waar daar maar gedeeltes van die lyf nie bloed en suurstof kry nie, so ek weet nie wanneer hy sy laaste dinge wil doen nie. Soos vanoggend in die bed het die reegterbeen gevoel of hy “slaap”, so vol doringtjies, en toe ek opstaan is alles weer normaal. So probeer ek nou maar ook om net op die linkersy te slaap want anders druk die gewas die aar so toe dat my hele lyf “slaap”.

So dit is maar waar ons is. Klein Lars word by die dag groter daar anderkant in Melbourne en is hy die Sondag by hul gemeente ingeseën. Baie goed om te sien hoe hulle hele groepie om hom staan en vir hom bid, en was bly dat sy oupa Lars ook daar kon wees.

So tot volgende keer, ek weet nou nie wanneer dit sal wees nie want ek skaal maar bietjie af, mag dit met julle welgeluksalig wees.

Die liedjie wat ek vandag wil deel is maar ook net nog een van my gunstelinge.


Net so ‘n definisie van welgeluksalig. Ek het dit so ‘n jaar en ‘n half gelede gedeel.
Wel - Dit gaan goed, jy is nie siek nie, jy het nie tekort nie,
Geluk - Bly, lag, verheug, dit borrel in jou, staat van ekstase, nie vyande nie,
Salig - Rustig, nie bekommerd nie, ek weet waar ek heengaan as ek sterf
Driemaal goed gaan met ons. Wel - Liggaam, Geluk - siel, salig – gees