En nou is die naweek oppad. Nie dat die
verskillende dae ‘n impak op my lewe meer het nie. Gister is dieselfde as
vandag, en is weer dieselfde as more. Ek let net die verskil op in die tye wat
die winkels oop is. Dan weet ek darem ons moet Saterdag genoeg melk kry om te
hou tot Maandag want die melkery is soos al die ander winkels behalwe die kafee
toe op Sondag. So dit is maar hoe ons die dae ervaar.
Jana het gister en vandag ‘n bietjie by ouma
en oupa kom kuier. Theuns was ook geboek om oor te slaap maar teen die tyd dat
mamma moes terug ry plaas toe was sy tassie alreeds weer terug in die kar om
saam met mamma terug te ry. Die kuiertjie was baie lekker. Ouma het lekker met Jana
gespeel en haar besig gehou. Soveel so dat toe mamma bel om te sê sy is oppad,
dat Jana vra of mamma nie bietjie later kan kom nie want daar was nog soveel
wat ouma gesê het wat hulle nog moes doen. Gelukkig is daar altyd ‘n volgende
keer om alles te probeer in pas, maar dit sal maar moet wag tot dit weer skool
vakansie is.
Wat die gesondheid aanbetref is dit maar woes.
Ek raak nie ontslae van die pyn in die sy nie, en dit het nou versprei na die linkerkant van die buik ook. En dan is die ou
pens ook aan die gang met diarieë. En die warmgloede wil ook nie ophou nie. Ek
het nog Woensdagoggend saam met Hettie winkel toe gegaan, maar die afgelope twee
dae was dit nie moontlik nie. Met elke tree wat ek gee voel dit of iemand ‘n
dolk hier in my ingewande indruk en dan so ‘n lekker ou draai gee. En dan is
daar die omval ook. Ek moet so stadig opstaan dat ek eers seker maak dat daar
bloed in die kop is, dat dit vir my voel ek is nou oud. Maar dit gebeur ook
sommer so terwyl ek sit of lê dat die bloed net wegraak.
Net so vir interesantheid. As gevolg van die
raarheid van carcinoid sindroom is daar min gevalle studies beskikbaar, en
verskil behandelings van een spesialis na die ander. Van die studies wat wel
beskikbaar is, was chemoterapie suksesvol op gewasse van 10mm en kleiner. Dan word
suksesvol gereken op ‘n beterskap van 32% van die pasiente. In die studie het
chemo die gewas se groei gestuit, of selfs vernietig. Op groter gewasse, soos
myne van 60mm+, is die kans baie skraal dat chemo enigsins kan werk. Die beste
behandeling bly maar nogsteeds om die gewas of uit te haal, of sy massa te
verminder. Ongelukkig vir my is myne op so ‘n plek waar daar geen kans op
oorlewing is as hulle dit wil verwyder of probeer om die massa te verlaag nie.
Verder veroorsaak die oormaat serotonin, (dit is wat die carcinoid sindroom in
die eerste plek veroorsaak) wat die gewas afskei, dat ek heel moontlik nie eers
narkose sal oorleef nie. So dit is maar ‘n siekte waaroor daar nog baie min navorsing
gedoen is, en in die meeste gevalle is dit maar die pasiënt self wat moet
besluit wat die behandeling is. Vir baie mense is oorlewing so belangrik dat
hulle enige behandeling sal probeer, en vir ander moet die lewe maar sy loop
neem.