En daar is sommer nog twee dae verby. Ek is
baie bly oor die reën die afgelope paar dae. Maandag sommer 17mm binne 20
minute, gister nog ‘n bietjie, en so terwyl ek hier nou sit het dit weer begin
reën. Vanoggend het ek ons eerste pattypans gepluk, en môre is dit die skorsies
se beurt. Dit is darem baie lekker om so jou eie ou groentetjie te kan eet.
Gisteraand het ons die jaar se selgroep
byeenkomste by ons huis afgeskop. Dit wat ek gedink het ons oor gaan praat is
toe glad nie bespreek nie. Ek moes omtrent bontstaan om al die antwoorde vir
mense kon gee. Dit het net weer vir my gewys dat daar baie mense is wat nie
weet wat in die Bybel staan nie. Soos die een persoon vir my sê het hy sy
buurman ‘n vraag gevra oor ‘n onderwerp, en die sê toe vir hom wat sy standpunt
is. Toe die persoon sy buurman vra waar dit in die Bybel gestaaf kan word toe
erken die buurman dat hy nie eintlik die Bybel ken nie, want hy gaan kerk toe
om te hoor wat die Bybel sê. Nogal interesant.
Met die gesondheid is dit maar nogsteeds op en
af. Gister het ek seker net vir so ‘n halfuur leë blombakke reggepak en die
skadunet in nuwe sakke gesit, toe oorverhit ek alweer. Soveel so dat ek ‘n koue
stort gaan vat het en toe vir ‘n halfuur voor die waaier moes sit om weer normale
temperatuur te bereik. Vanoggend was ons net winkel toe en terug toe is dit
weer waaier tyd. Die ander simptome is maar altyd in die rondte. Die moeilikste
een is maar seker die pyn. Soos vroeër vandag het dit gevoel dat met elke treë wat
ek loop of iemand ‘n mes hier regs van die naeltjie insteek. En dan is die
omval storie ook aan die gang. Vanoggend was Hettie gelukkig by my en het ek
haar sommer skielik om die hals gaval toe ek opstaan van ‘n gebukkende posisie.
Maar dit is ook sommer net lekker om haar ook ‘n lekker drukkie te gee.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking