Vandag het ons so ‘n lekker warm Karoo dag.
Die temperatuur is seker nie veel hoër as 34 nie, maar sodra jy in die son kom
kan dit net sowel 40+ wees. Met middagete het Hettie vir ons ‘n bottel van haar
spesiaale aarbei konfyt uitgehaal wat ons toe met plaatkoekies geniet het. Wat
dit spesiaal maak is die Van der Hum likeur wat bygegooi word. Sjoe dit is baie
lekker. Gesondheids gewys gaan dit eintlik ‘n bietjie beter vandag. Daar is
maar die normale seer plekke soos hier regs in die buik waar die gewas sit wat
my nogal laat dink dat iemand iets sonder verdowing van hier onder die ribbekas
tot daar gelyk met die naeltjie wil indruk. En die ou derm wat seer is na etes.
En dan die twee kliere, een links en die ander een regs tussen die ribbes onder
die arms. Gelukkig is die gloede so ‘n bietjie stiller. Ek het ook gisteraand
op die een webtuiste uitgevind dat die toetse wat hulle so oor die afgelope
tien jaar in Amerika gedoen het, wys dat persone wat ‘n hoë protiën dieet volg
minder simptome toon as die wat dit nie doen nie. Hulle aanbeveling is dat jy
tweekeer meer protiën moet eet as wat ‘n normale persoon eet. Dit help glo om
van die oorskot seretonien wat die gewas maak, te neutraliseer. En dit is die
goed wat die gloede veroorsaak. So nou het ek ‘n rede om my vleisie te geniet.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking