Daar is die eerste keer in 1986 ‘n
kwaadaardige gewas uit my blaas verwyder. Geen van my ouers het enigsins met
kanker gesukkel nie, so dit was vir my nogal ‘n groot skok toe ek dit gehoor
het.
In 1995 het ek ingegaan vir ‘n nood blindederm
operasie en tydens die operasie is daar toe op ‘n carcinoid gewas afgekom aan
die dunderm, asook carcinoid in die blindederm. Carcinoid is ‘n kanker met
bepaalde simptome en groei redelik stadig in vergelyking met ander kankers. Dit
is toe verwyder saam met ‘n verdere 90cm van die derm. Ek het toe eers
uitgevind dat ek vir ‘n lang ruk al die simptome van carciniod sindroom gehad
het sonder dat dit opgetel is. Ek het elke oggend gesukkel met diarieë, het met
elke bietjie inspanning baie gesweet, so nou en dan gevoel of ek gaan versmoor
of ‘n hartaanval kry van pyn in die slukderm omgewing, en warm gloede gekry. Ek
het eers nou uitgevind dat die pyn in die bors ook een van die gevolge is van
carcinoid sindroom. Gelukkig weet ek al teen die tyd dat ‘n glas koue water
onmiddelik help daarvoor.
Ek is toe 8 weke later in vir ‘n laparoptomieoperasie
waartydens hulle toe ‘n groot aantal limfnodes verwyder het wat almal
kwaadaardig was. Daar is ook ‘n gedeelte van ‘n ander gewas gelos wat aan ‘n bloedvaat
en dunderm verbind was. Dit kon nie verwyder word sonder om noodlottig vir my
te wees nie. So dit was alles so 18 jaar gelede.
Oor die vorige seker 6 jaar was daar
sporadies krampe in die buik, winde wat vasgesteek het in die dunderm, pyn in
die bors en dan weer warm gloede. Die stoelgang is nie so los soos vroeër nie,
maar veroorsaak erge brandboude, en ek is baie vinnig moeg. Die simptome het
maar meer intens en gereeld geword oor die afgelope paar jaar en veral die steek
in die sy wat herinner aan miltsteek het die afgelope jaar baie toegeneem en by
tye baie lank gevat om weg te gaan.
Die een Sondag in Augustus 2013 het dit egter
baie skielik toegeneem tot so ‘n mate dat ek by ‘n dokter moes uitkom. Net voor
die voorval het ek ‘n baie lae emosioneële punt bereik en is dit opgevolg met
‘n baie positiewe gevoel nadat ek twee belangrike toetse by my werk geslaag het
wat nuwe deure vir my sou oopmaak.
So ‘n paar weke later het ek by die onkologie eenheid
by die Provinsiale Hospitaal in Port Elizabeth uitgekom, waar ek pynmedikasie
gekry het, en verwys is na die chirurg vir verdere ondersoek. By die chirurg is
ek aangesê om ‘n CT skandering te laat doen.
Ons het in die tussentyd verhuis na Steynsburg
want Su-Hannie, my jongste dogter en haar man Bani, het gesorg dat ons ‘n bietjie nader aan hulle is en ons meer gereeld kon kuier, en ek nie nodig het om my te bekommer
oor blyplek en allerhande ander goed nie.
Met die volgende afspraak by die chirurg moes
ek eers weer lank wag want my lêer het iewers langs die pad verlore geraak. (Ai,
die nuwe Suid Afrika tog.)
Uiteindelik het ons die resultate van die
skandering gekry. Soos ek te wagte was het die stukkie van die gewas wat hulle
agtienjaar vroeër moes los, gegroei tot ‘n gewas van so 70mm lank en wissel in
deursnit tussen 31 en 29mm. Saam met die gewas is daar weer “multiple”
limfkliere wat kwaadaardig is, asook twee ander kliere, een onder elke arm. Die
gewas het nou om die dunderm gegroei wat gemaak het dat ‘n deel van die dunderm
verkalk het, en omring nou vier bloedvate in die buik.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking