En so het ‘n week verloop sonder enige nuwe
skrywes vir die dagboek. So wat het die week in my lewe aangegaan? Sondag is
ons na die diens toe en is ek toe sommer skielik gevra om die diens te lei. Dit
was so lekker om sommer so uit die vuis uit te kon deel met die mense oor die
verbond. Môre gaan ek bietjie verder en gaan ons ook nagmaal vier. Dit behoort ‘n
fees te wees.
Maandag was ons maar besig by die huis, en
Dinsdag is ons saam met Su-Hannie na hulle plaas toe vir Kersfees. Dit was
sommer baie lekker om die tyd saam daar deur te bring. Ek weet ek het nou nie
veel gedoen nie, maar ek was darem saam met Bani na die bome toe om te sien hoe
die nuwe boompies aangaan, en na die braaikuikens toe wat seker so oor twee
weke geslag sal word.
Ek het nou ook uitgevind dat die oggende
gewoonlik vir my redelik maklik is om deur te kom, maar ai tog daarna. So op
Kersdag het ek maar ‘n bietjie sleg
gevoel en was daar amper nie ‘n minuut wat ek nie gloede gehad het nie. Maar
gelukkig is daar darem pynpille wat help om die pyn onder beheer te hou. En dan
is ek ook sommer bederf deur al die telefoonoproepe wat dit regtig spesiaal
gemaak het. Die res van die week was dit maar soos gewoonlik. Nou goed en dan
voel ek sommer weer woes vyf minute later. Gister het Su-Hannie ons toe weer na
ons huis toe gevat, en vandag is so ‘n tipiese Karoo somersdag.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking