Sondag 29 Desember 2013.
Vanoggend het ons diens gehou by Eben en Nita
se huis. Dit was regtig baie lekker gewees om met die mense te kon praat oor
die verbond. Dit is nog steeds vir my verbasend hoe mense wat al ‘n lang pad
met die HERE stap, nog nooit geleer het wat die verbond vir ons beteken nie, en
ook nie weet dat almal in Christus deel word van die verbond nie.
By die huis het ek en Hettie ‘n bietjie buite
gesit terwyl ek vir ons ‘n vleisie op die vuur gesit het vir middagete. Dit was
nogal lekker aangesien dit redelik bewolk is vandag. Ek was net nie voorberei
vir die haelstorm wat ons gehad het nie. Dit het geklink of dit klippe reen.
Die wereld was besaai met hael van golfbal grote en groter. Gelukkig het die
groentetuin oorleef. Die pampoene het darem nie skade aan die blomme of vrugte
gehad nie, net so ‘n paar blare is afgeslaan of gate in geslaan.
Met die ou gesondheid is dit nie so lekker
vandag nie. Die regter nier is maar seer, en dan het ek vandag sooibrand gekry
voor ete, iets wat ek regtig nie aan gewoont is nie. En dan is daar die ou seer
in die buik. Vandag is dit nogal seer, maar ek onthou nou skielik ek het nog
nie my pynpille gedrink vanmiddag nie. So dit verklaar ook maar hoekom ek seer het.
Iets wat ek ook deesdae oplet is hoe die gloede nou uiting gee aan hulleself.
Daar begin nou oral op die bene, hande en arms sulke donker kolle uitslaan op
die vel. Ek het altyd gewonder hoe lyk dit wanneer ek lees dat die vel kolle
kry van die gloede. Nou weet ek.
Dinsdag 31 Desember 2013.
En so kom nog ‘n jaar aan sy einde. Daar het
soveel gebeur in hierdie jaar dat ek nie eers lus voel om dit in gedagte te
roep nie. Ma is gister ‘n jaar gelede oorlede, Barry is begin Februarie huis
toe, en so kan ek aangaan. Vir myself moet hierdie jaar nou klaar kry, want
hopelik is volgende jaar dalk beter. Dit is maar moeilik om so van Carcinoid
krisis na krisis te lewe. Veral as dit jou nie ‘n blaaskans geen tussen die
aanvalle nie.
Gister was dit maar erg. Ek het skielik gedink
aan ‘n paar maande gelede waar ek dalk een keer ‘n week na pynpille gegryp het
om verligting te kry, tot waar ek deesdae is waar ek nie kan wag vir die tyd om
verby te gaan sodat ek weer die volgende klomp pille in my keelgat kan afgooi nie.
Dit is nou te sê as ek kan opstaan sonder om eers weer gou na iets te gryp
sodat ek nie omval nie. Ek het darem gister Su-Hannie se aarbeiplantjies wat sy
ons gegee het in die grond gekry. Barney het vir ons die gras geplant wat saam
met die aarbeie gekom het.
Ons sou vanaand na ‘n braai toe gegaan het
maar ek het dit sommer vroeg al gekanseleer. Ek het nie eers kans gesien om
saam met Hettie winkel toe te gaan nie, so hoe sal ek nog kans sien om uit te
gaan. Hettie het maar laat weet deur iemand anders dat ons dit nie sal maak nie
aangesien daar geen selfoon diens beskikbaar is van gister middag af al nie.
Die weerlig het glo iets by Queenstown uitgeslaan en nou is daar ‘n groot
gebied wat geen diens het nie. So vandag is ‘n dag om te rus en uit te sien na
môre
wanneer ek dalk beter sal voel.
Ek wil dan ook sommer vir almal wat hier lees
‘n baie goeie jaar toewens vir 2014, en dat ons altyd ons oë op Hom sal hou wat
lewe gee en waarheen ons terugkeer as ons tyd op aarde verby is, ons wat in
Jesus is en glo.